NWR ly groot verliese in 2020
NWR ly groot verliese in 2020

NWR ly groot verliese in 2020

Namibia Wildlife Resorts se voorsitter sê ondanks 'n uitdagende boekjaar was die maatskappy steeds innoverend om bedrywighede aan die gang en werknemers in diens te hou.
Sanet de Waal
Ellanie Smit en Kristien Kruger



In een van die moeilikste boekjare ooit in die toerismebedryf het Namibia Wildlife Resorts 'n verlies van N$174 miljoen aangeteken.

NWR se voorsitter, amb. Leonard Iipumbu, het op die maat­skappy se algemene jaarvergadering op 29 April gesê: “Die uitstekende mylpaal van ons allereerste wins van N$22 miljoen sedert die stigting van die organisasie en ander finansiële winste wat in 2018-'19 behaal is, is weens Covid-19 uitgewis.”

Hy het gesê die organisasie was steeds innoverend om bedrywighede aan die gang te hou en dit het die aflegging van werknemers verhoed.

“Ons was die eerste organisasie wat ons oorde as isolasiegeriewe aan die regering aangebied het. Dit was 'n reëling wat min akkommodasieplekke in dié tydperk oorweeg het.”

Hy het benadruk die organisasie het veral aandag aan die plaaslike mark gegee deur spesiale aanbiedinge.

“Dit het ons in staat gestel om ons besigheid aan die gang hou en 'n nodige diens aan die publiek te lewer.”



IN KONTEKS GESIEN

NWR se woordvoerder, mnr. Mufaro Nesongano, sê die verliese moet binne die konteks van 'n moeilike jaar weens die impak van die pandemie verstaan en geïnterpreteer word.

“Dit was die grootste uitdaging in die geskiedenis van die Namibiese toerismebedryf in die algemeen en NWR in die besonder.”

Hy sê NWR se gemiddelde besetting het van 49% in 2019 tot 21% gedaal. Dit was darem beter as die slegste scenario van 10% wat voorspel is toe die pandemie uitgebreek het.

Die maatskappy het ook 'n daling van 56% in inkomste gehad, vanaf N$395 miljoen in 2019 tot N$173 miljoen, wat meestal, indien nie ten volle nie, van die binnelandse mark verkry is, het Nesongano gesê.

“Ons het 'n toename van 1% in uitgawes gehad, hoofsaaklik as gevolg van die uitbetalings van vrywillige skeidingspakkette vir 130 werknemers.”

Volgens hom het dit gelei tot 'n omvattende verlies van N$174 miljoen, wat strook met die tendense in die bedryf vir 2020.

Nesongano sê die maatskappy moes innoverend wees om te oorleef en om sy bedrywighede volhoubaar te maak, wat daartoe gelei het dat werknemers nie afgelê is óf verminderde salarisse ontvang het nie, behalwe vir direksietoelaes en salarisse vir senior bestuur.

Nesongano het bygevoeg om koste te bespaar, het NWR 'n ooreenkoms met die Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers (Napwu) onderteken om salarisverhogings vir die finan­siële jaar 2019-'20 op te skort.

Normale oortyd, Sondag- en openbare vakansiedae en ander toelaes en voordele is ook vanaf 27 Maart 2020 opgehef.

Die besturende direkteur van NWR, dr. Matthias Ngwangwama, het gesê die NWR se gasvryheidsinstituut (NWR Hi) is gedurende die oorsigtydperk suksesvol tot stand gebring.

“In samewerking met die Nasionale Opleidingsowerheid (NTA) was NWR se opleidingsarm, NWR Hi, in 2020 operasioneel en beurse is aan 80 vakleerlinge toegeken wat van al 14 streke in Namibië afkomstig is,” het hy gesê.

Ngwangwama het waardering vir die media se rol gedurende die boekjaar geopper.

“Ons maatskappy is op een punt gedurende die jaar deur die NamMedia-moniteringsagentskap in die sesde plek geplaas wat positiewe mediadekking betref.”

Die minister van staatsondernemings, mnr. Leon Jooste, het die raad en bestuur van die maatskappy bedank omdat hulle relatief goed gevaar het om die rampspoedige gevolge van Covid-19 te hanteer.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!