NWR-personeel se salarisse in weegskaal
NWR-personeel se salarisse in weegskaal

NWR-personeel se salarisse in weegskaal

Die Covid-19-pandemie het ook 'n impak op Namibia Wildlife Resorts.
Sanet de Waal
Francoise Steynberg - Namibia Wildlife Resorts (NWR) se 909 personeel spring ook nie die verwoestende gevolge van die Covid-19-pandemie op die toerismebedryf vry nie.

In 'n brief wat Vrydag aan personeel van NWR gestuur is, skryf die nuwe besturende direkteur, dr. Matthias Ngwangwama, Junie se salarisse is nog gewaarborg, maar vanaf Julie is salarisbetalings onseker.

“Betalings aan onder meer pensioene, belasting, die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC), mediese fonds, versekering, huislenings en persoonlike lenings kon nie verseker word nie,” het Ngwangwama geskryf.

Hy het personeel aanbeveel om die nodige reëlings met hul finansiële instellings en krediteure te tref.

“Met die Covid-19-pandemie is die internasionale mark, wat die kern van die NWR se sakemodel is, nie meer beskikbaar nie en die impak het erge en verwoestende gevolge vir die toerismebedryf.”

Dit volg ondanks spesiale aanbiedinge van so laag as N$600 per kamer wat NWR sedert Maart aan plaaslike toeriste by sekere van hul oorde aanbied.

“Sedert die pandemie het die bestuur verskeie maatreëls geïmplementeer om die maatskappy se volhoubaarheid en werksgeleenthede te beskerm.

“Daarom kon volle salarisse in Maart, April en Mei betaal word (anders as soveel van ons eweknieë in die bedryf), ondanks die afwesigheid van aansienlike inkomste en kontantvloei,” het Ngwangwama geskryf.

Hy sê alle kort-, medium en langtermyn strategiese opsies is uitgeput.

“Dit sal goeie nuus wees as die situasie verbeter. Wees verseker die bestuur en direksie sal voortgaan om oplossings vir die probleem te soek.”

Hy het 'n beroep op personeel gedoen om kalm te bly.

Mnr. Mufaro Nesongano, NWR se bestuurder van korporatiewe kommunikasie en aanlyn media, het die egtheid van die brief aan Republikein bevestig.

Intussen het NWR Vrydag (12 Junie) aangekondig Ngwangwama is effektief vanaf 1 April vir 'n vyfjaartermyn as NWR se besturende direkteur aangestel.

Hy het die afgelope sewe jaar in strategiese poste in NWR gedien, naamlik hoof finansiële beampte en hoofbeampte: strategie en projekte.

Ngwangwama is sedert 23 April verlede jaar die waarnemende besturende direkteur nadat hy die leisels by me. Zelna Hengari oorgeneem het.

“Met sy aanstelling sal van hom verwag word om die pad vorentoe vir die organisasie tydens hierdie tydperk van onsekerheid in die toerismesektor uit te wys,” sê Nesongano.

“Die NWR-direksie wens hom alle sterkte toe en sien uit om saam met hom te werk.” - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!