O, die donkie is 'n wonderlike ding

Die direkteur van toerisme het onlangs die lof van dié voedselbron in die hoofstad besing.
Maria Eiseb
Maria Eiseb - Tydens 'n feesmaal van donkie­vleis wat onlangs by 'n restaurant in die hoofstad voorgesit is, het dr. Sem Shikongo, direkteur van toerisme in die ministerie van die omgewing en ­toerisme, die lof van dié dier se vleis besing.

Die eienaar van Tao's Kitchen, me. Taosoni !Noarises, het dié oortuiging beaam. Sy het ook aan restaurant­gaste gedemonstreer hoe veelsydig donkievleis is.

“Daar was nog altyd net een manier om donkievleis voor te berei,” het sy gesê.

“Die enigste manier waarmee ons grootgeword het, was om dit in 'n driebeenpot op die vuur te kook. Maar met verloop van tyd het die voorbereiding van ||îb ge (die Damara-woord vir die donkie) ook verander.”

!Noarises het vir die donkiefeesmaal by Tao's Kitchen verskeie donkiegeregte voorgesit wat op verskillende maniere voorberei is.

Teenwoordig was lede van die publiek, koskenners en Shikongo, wat gaste oor die gebruik van donkievleis toegespreek het.

Volgens die kenners om die tafel is witwyn glo die beste pasmaat by 'n ­donkiegereg.

!Noarises het tydens die ete gesê sy wil graag vooropgestelde idees en kulturele taboes oor donkievleis in die kiem smoor.

Sy wil ook aan die verskillende etniese groepe demonstreer dat donkievleis op verskeie maniere voorberei en geniet kan word.

“Almal moet weet hoe gesond donkievleis is. As jy donkievleis eet, kry jy nie dieselfde siektes wat jy van die ander soorte rooivleis kry nie,” het sy gesê.

Sy hoop die gemeenskap sien af van die tradisionele voorbereidingsmetodes en verwelkom alternatiewe.

By die ete is droëwors en chili-happies as versnaperinge voorgesit.

Die voorgereg was vleisbolletjies, -repies, kebabs en braaivleis wat met stampmielies of pap voorgesit is.

Vir dié wat maar swaar aan donkievleis sluk, is vis en hoender voorberei.

!Noarises het heelwat resepte vir die toekoms en wil van dié feesmaal 'n jaarlikse geleentheid maak.

“Volgende jaar wil ek donkievleis met pasta en pizza kombineer, en die jaar daarop wil ek ook russians en Weense worsies byvoeg,” het sy gesê.

By die geleentheid het Shikongo gesê donkievleis is die enigste rooivleis wat dwarsoor die wêreld as gesond beskou word.

Volgens hom het donkiemelk medisinale eienskappe en is dit glo al vir die behandeling van asma in kinders gebruik. Dis boonop laag in cholesterol en vet, het hy gesê.

“Donkievleis veroorsaak nie jig nie en is hoog in proteïene,” het hy gesê.

!Noarises hoop donkievleis sal in die toekoms ook in slaghuise beskikbaar wees.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!