O.19’s wil wéér grotes sink

Die jong span onder kaptein Lo-han Louwrens is op pad na Nieu-Seeland.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Afrigter Robbie Joseph en sy Namibiese o.19 krieketspan vertrek vanoggend vol hoop na die junior Wêreldbekertoernooi in Nieu-Seeland wat oor minder as twee weke begin.

Die verwagtinge van die Namibiërs is hoër as normaalweg, op grond van die merkwaardige sewende eindposisie by die vorige toernooi twee jaar gelede in Bangladesj – beter as die toetslande Suid-Afrika en Zimbabwe.

Onder kapteinskap van Zane Green het die span van 2016 ’n onvergeetlike oorwinning teen Suid-Afrika as titelhouers behaal en sodoende vir die kwarteindstryd gekwalifiseer, waar hulle egter deur Indië oordonder is.

Die span se verklaarde doelwit om wéér die kwarteindronde te haal, is uiters ambisieus en min kenners sal hulle straks ’n kans gee om dit reg te kry.

Oor ’n oorwinning teen Kanada op 18 Januarie sal nie onderhandel kan word nie. Voor dit sal die span waarskynlik ook ’n skokuitslag teen óf Bangladesj (13 Januarie) óf Engeland twee dae later moet lewer.

Amptelike opwarmwedstryde teen Pakistan komende Maandag en daarna Afghanistan twee dae later sal ’n eerstehandse bekendstelling aan die kolfblaaie van Christchurch bied, hoewel die werklike groepwedstryde op twee van die suideiland se ander stede (Lincoln en Queenstown) voorlê.

’n Onlangse driehoekige reeks teen Engeland en die gasheerland Suid-Afrika op Potchefstroom in sy doel gedien het om die Namibiërs as ’n eenheid saam te snoer en hul sterk en swak punte uit te wys, hoewel die jong span soos verwag al hul wedstryde verloor het.

Die ietwat wisselvallige vertonings in die provinsiale o.19 Khaya Majola-krieketweek in Johannesburg verlede maand sou waarskynlik ook nie juis slapende honde wakker gemaak het nie.

Die nuwe spankaptein, Lo-han Louwrens, is egter een van die spanlede wat hom intussen reeds in senior krieket begin tuismaak het. In die afgelope seisoen het hy die jongste Namibiese kolwer nóg geword wat ’n eersterangse honderdtal behaal het, toe hy teen die Boland in die Paarl sy kolf omhoog gelig het.

Louwrens het by die Khaya Majola-week ook gewys dat sy kolfpeil tans op ’n goeie vlak is.

Nog ’n spanmaat wat op ’n hoër vlak impak kan maak, is die draaibouler Petrus Burger wat in die T20 Afrikabeker en die Suid-Afrikaanse provinsiale kompetisie sy kanse begin aangryp het. In die Interkontinentale Beker vierdagwedstryd teen die Verenigde Arabiese Emirate in Windhoek laas September het hy 3/44 in die eerste beurt geneem.

Louwrens, Burger, Jurgen Linde en eben van Wyk is die oorblywende spelers van twee jaar gelede. Die groep wemel ook van ander spelers met veggees en deursettingsvermoë wat alles in die stryd sal werp om met kolf- of boulwerk ’n verskil te maak.

Die finale spelersgroep wat vir die Wêreldbeker gekies is:

LO-HAN LOUWRENS (kaptein)
Gebore: 24 April 1999 (18 jaar)
Paaltjiewagter, regshandige kolwer
Klub: Trustco United
Leuse: Vandag doen ek wat ander nie bereid is om te doen nie, sodat ek môre kan doen waartoe ander nie in staat is nie.

JURGEN LINDE
Gebore: 11 Februarie 1999 (18 jaar)
Linkshandige kolwer
Klub: Welwitschias
Leuse: Jy mis 100 persent van die kanse wat jy nie aangryp nie.

PETRUS BURGER
Gebore: 3 November 1999 (18 jaar)
Regshandige kolwer, regterarm wegbreekbouler
Klub: Welwitschias
Leuse: Laat harde werk nooit in die pad staan om jou doel te bereik nie.

EBEN VAN WYK
Gebore: 19 Maart 1999 (18 jaar)
Regshandige kolwer
Klub: WHS Old Boys
Leuse: Krieket is ’n sport – laat dit tel.

NICOL LOFTIE-EATON
Gebore: 15 Maart 2001 (16 jaar)
Linkshandige kolwer, paaltjiewagter
Klub: CCD Tigers
Leuse: ’n Reis van ’n duisend myl moet met die eerste tree begin.

SHAUN FOUCHÉ
Gebore: 14 Februarie 2000 (17 jaar)
Regshandige kolwer, regterarm mediumsnelbouler
Klub: WHS Old Boys
Leuse: Harde werk vandag sal beloon word.

JAN-IZAK DE VILLIERS
Gebore: 5 Junie 2001 (16 jaar)
Regshandige kolwer, regterarm mediumsnelbouler
Klub: Samsung FNB Wanderers
Leuse: Filippense 4:13 Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.

DEWALD NELL
Gebore: 31 Mei 1999 (18 jaar)
Linkshandige kolwer, regterarm mediumsnelbouler
Klub: Trustco United
Leuse: Hoe hard jy neerslaan, tel minder as hoe hard jy jou pad terug veg.

BEN SHIKONGO
Gebore: 8 Mei 2000 (17 jaar)
Regshandige kolwer, regterarm mediumsnelbouler
Klub: Welwitschias
Leuse: Wees wie jy wil wees en nie wat ander wil sien nie.

ERICH VON MOLENDORFF
Gebore: 6 April 2000 (17 jaar)
Regshandige kolwer
Klub: Welwitschias
Leuse: Bly gereed, dan hoef jy nie gereed te maak nie.

MAURITIUS NGUPITA
Gebore: 13 Desember 2000 (17 jaar)
Regshandige kolwer, regterarm wegbreekbouler
Klub: Welwitschias
Leuse: Doen my beste, dan kan ek nie myself beskuldig nie.

GERHARD LOTTERING
Gebore: 19 Mei 2000 (17 jaar)
Regshandige kolwer, regterarm mediumsnelbouler
Klub: Welwitschias
Leuse: Moenie huil omdat dit verby is nie ... glimlag omdat dit gebeur het.

FLORIS STEENKAMP
Gebore: 16 April 1999 (18 jaar)
Regshandige kolwer, regterarm mediumsnelbouler
Klub: Samsung FNB Wanderers
Leuse: Niks in die lewe is verniet nie. Hoe harder jy werk, hoe beter sal jy presteer.

HENRY BRINK
Gebore: 29 Maart 2001 (16 jaar)
Paaltjiewagter, regshandige kolwer
Klub: Primrose krieketklub
Leuse: Moenie spyt wees oor die verlede nie – leer daaruit.

RAMON WILMOT
Gebore: 17 September 2002 (15 jaar)
Regshandige kolwer, regterarm draaibouler
Klub: CCD Tigers
Leuse: Staan elke dag sterker op as die vorige en moenie vir jou vrese terugdeins nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 23° | 39° Eenhana: 24° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 21° | 36° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 17° | 34° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 19° | 32° Henties Bay: 14° | 18° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 17° | 30° Mariental: 13° | 29° Keetmanshoop: 9° | 28° Aranos: 16° | 30° Lüderitz: 13° | 28° Ariamsvlei: 10° | 27° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 37° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 16° | 35° Maseru: 13° | 26° Antananarivo: 16° | 29° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 21° | 41° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 15° | 19° Durban: 16° | 22° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 19° | 29° Harare: 17° | 25° #REF! #REF!