O.20's oorkom hardnekkige Kenia
Kwalifikasie vir 'n internasionale toernooi bly die Namibiërs se mikpunt.
Andrew Poolman
Die Namibiese onder 20-rugbyspan het op koers gebly om vanjaar weer die Afrika-kwalifiseerder vir die Wêreldrugby Junior trofee-toernooi te wees, wat in Augustus in Roemenië aangebied sal word.
Die jong Namibiërs het Saterdag in Windhoek as suidelike streekwenner van die Jean-Luc Barthes-trofee vir o.20-spanne uit die stryd getree. Volgende sal hulle teen die noordelike streekwenner moet wen as hulle weer vir die wêreldtoernooi wil kwalifiseer.
Saterdag se oorwinning met 37-18 teen Kenia was welverdiend, ondanks die uitdagers se beste pogings om hul tradisionele agterstand teen die Namibiese rugbykrag uit te wis. Die Oos-Afrikane was in die eerste helfte nog heel kompeterend toe die pouse op 17-12 geneem is.
Die Keniane het in die negende minuut die voortou met 'n onverdoelde drie deur hul linkervleuel Joshua Macharia geneem, wat in die linkerhoek oorgebars het ná goeie opbouwerk deur sy voorspelers van 'n lynstaan af.
Namibië het sy groot slot Adriaan Ludick vroeg met 'n ligte skouerbesering verloor (vervang deur Lezardo Vos), maar het kort daarna hul eerste punte op die telbord geplaas. Flank Peter Diergaardt kon gemaklik omdraf pale toe, nadat die kaptein Prince !Gaoseb in die vorige fase met 'n sterk lopie gevorder het. Denzo Bruwer het met sy doelskop geen fout gemaak nie (7-5).
'n Doelgerigte aanval en sterk lopies deur regtervleuel Doneville Lebereki en agtsteman Oderich Mouton het die bresse geslaan vir 'n drie wat met die volgende fase ewe maklik deur buitesenter Gerswin Mouton afgerond is. Die skop uit die linkerhoek was egter te skuins vir Bruwer (12-5).
Kort ná die halfuurmerk het Bruwer met 'n strafskop mis gekorrel, voordat Kenia hul volgende kans aangegryp het. Met 'n lynstaandryf is tot op die doellyn gevorder, waar die agtsteman Mark Mutuku sy drie gedruk het vir heelagter Xavier Bett om die verdoel (12-12).
'n Drie deur Oderich Mouton, wat van 'n vyfmeterskrum oorgedryf het, het Namibië sy voorsprong met rustyd besorg. Weer was die hoek te skuins vir Bruwer, en hoewel hy van die afskop af vir Kenia met 'n reuse-lynskop van 65 meter teruggedwing het, was daar te min tyd om daaruit munt te slaan.
Die skeidsregter, me. Saudah Adiru van Uganda, het soms die wenkbroue laat lig met van haar beslissings wat veral die tuisspan se momentum verbreek het, maar sy was in die kol toe sy Oderich Mouton vir 'n voortydige duikslag gestraf het, wat Kenia se Bett in staat gestel het om die telling tot 17-15 te laat aangroei.
Met geel kaarte het beide spanne se 7-flanke, Monate Akuei en Prince !Gaoseb, vir 'n wyle langs mekaar in die koelkas gesit, onderskeidelik vanweë 'n trap en 'n hoogvat.
Namibië het egter sy tweede asem gevind en ná opbouwerk van 'n lynstaan af het senter Gerswin Mouton genoeg spasie gehad om sy tweede drie te gaan druk.
Peter Diergaardt het ook sy tweede drie met 'n lynstaandryf gekry, maar hoewel Chad Plato die skopwerk by Bruwer oorgeneem het, het die telling wéér net met vyf aangegroei (27-15).
Plaasvervanger Delron Brandt het met 'n strafdoel die punteverskil 'n meer gemaklike 15 gemaak, hoewel Macharia met vier minute speeltyd oor ook met 'n strafdoel geslaag het (30-18).
Toe Kenia van die volgende afskop nie uit skop nie, het Delron Brandt met 'n breekslag die buitegaping gevat en teen die kantlyn af genael, voordat hy vir heelagter Chad Plato met 'n binne-aangee gestuur het om onder die pale te gaan oorduik. Brandt se doelskop was die laaste punte.
Onder die Namibiese voorspelers het die haker Darius von Solms sy springers beter gevind as drie dae tevore teen Zimbabwe. Hy het saam met die slot Wynand Breytenbach en flank Peter Diergaardt ook dikwels by die gevaarpunte opgedaag om Kenia se aanvalle te stuit.
FISIEKE STRYD
Kenia o.20 se afrigter, Paul Odera, het agterna gesê Namibië bly die toonaangewende krag in Rugby Afrika se kompetisies op senior en junior vlak.
“Namibië is goed georganiseer en het 'n sterk reserwebank. Hoewel ons sommige vrae kon beantwoord, was daar steeds aspekte waarin ons te kort geskiet het. Die tuisspan se opskietverdediging na ons eerste ontvanger het ons momentum gestuit.
“In terme van kondisionering begin ons darem inhaal, hoewel Namibië steeds toegang het tot beter geriewe en geleenthede as ons.
“Hierdie toernooi bly 'n belangrike een. Ons spelers weet dit is basies 'n kleedrepetisie vir Wêreldbeker kwalifiserende wedstryde op senior vlak. Ons begin nou met 'n nuwe vierjaarsiklus in ons strewe om vir die Wêreldrugby Junior Trofee-toernooi te kwalifiseer. Ons enigste verskyning was in 2009 as gasheerspan.”
Namibië se kaptein, Prince !Gaoseb, het gesê Kenia het 'n fisieke aanslag gebring en was waardige opponente. “Ons het gewen omdat ons bymekaar gestaan het en by die basiese beginsels van ons wedstrydplan gehou het.”
Afrigter Roger Thompson sê die kleiner wentelling as vorige jare is 'n aanduiding dat rugby op die vasteland, op junior en senior vlak, lewendig is en groei.
“Ons begin bou weer aan 'n jong span, want ons moet vyftien van laas jaar se groep vervang. Kenia het opsies om voor óf agterlangs aan te val en het ons met tye onder druk geplaas met hul aanpasbaarheid. Ons het soms strafskoppe afgestaan omdat ons by die kontakpunt nie op ons voete kon bly nie. Ons spelers het maar nog min wedstrydtyd dié seisoen en ons het dus aspekte om aan te werk voor die aanbreek van die Afrika-eindstryd en die Junior Trofee-toernooi.”
HONDERDTAL
Zimbabwe het vroeër met 100-15 teen Madagaskar gewen om derde te eindig. Die stortvloed punte het in die tweede helfte gekom, nadat dit rustyd nog maar 22-12 was.
Zimbabwe se kaptein en binnesenter Matthew McNab het vier drieë gedruk, terwyl losskakel Jeremiah Jaravaza met sewe doelskoppe geslaag het voordat hy vervang is.
Skeidsregter Oscar Lambert het die eilanders met 'n geel (62ste minuut)en 'n rooi kaart (77 minute) gestraf.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie