O&L voel Covid-19 se byt

Die groep sê hul werknemers, kliënte en aandeelhouers se gesondheid geniet tans voorkeur.
Die Ohlthaver & List (O&L)-groep het verlede Vrydag 'n nuusverklaring uitgereik oor die posisie waarin die maatskappy homself in die Covid-19-uitbreking bevind, waarin hulle die staatshoof, dr. Hage Geingob, se besluit steun om 'n ­nasionale noodtoestand af te kondig.

“As besorgde lid van die sakegemeenskap is ons bewus van die impak wat dié virus op die maatskappy sowel as ons werknemers het. Ons werknemers, kliënte en aandeelhouers se gesondheid is ons grootste prioriteit. Ons is bewus van die onsekerheid en vrees wat die Covid-19-uitbreking meegebring het, maar dit is uiters belangrik vir almal om in dié tyd kalm te bly. Ons stem saam met die regering se posisie,” sê mnr. Wessie van der Westhuizen, die O&L-groep se uitvoerende hoof.

Die groep en sy filiale het verskeie voorkomende maatreëls ingestel om werknemers, kliënte en verbruikers se veiligheid te verseker.

“Ons werk deurentyd om te ­verseker maatreëls word geïmplementeer wat almal se veiligheid en gesondheid prio­ritiseer.

“Dít sluit in ondersteuningsdienste vir die welsyn van ons groep, ­filiaalspesifieke volhoubaarheidstrategieë wat ­spesifiek ontwikkel is om te verseker dat die ­onderneming op enige ontwrigting kan reageer, 'n voortgesette griep­inentingsveldtog, deurlopende ­opleiding en bewus­making deur verskeie inisiatiewe, streng reisriglyne, sanitêre stasies by prominente areas in ­werksgebiede, sowel as die vorming van 'n Covid-19-­reaksiespan binne die O&L-groep,” het Van der Westhuizen gesê.

Na aanleiding van die verbod op groot groepsbyeenkomste is alle groot vergaderings en geleenthede vir ­minstens 30 dae uitgestel of afgelas.

Dít sluit onder meer die onafhanklikheidsviering-konsert geborg deur Tafel Lager in, sowel as die jaarlikse Made in Namibia-uitstalling by Wernhil Park en die jaarlikse Windhoek Karnaval (Wika).

O&L het die regering se pogings geloof om die land beter op die ­pandemie voor te berei.

“Soos jy seker kan dink, hou dit ­ernstige gevolge vir die plaaslike ekonomie en die Namibiese gemeenskap in. O&L is geensins immuun teen dié gevolge nie. Sedert die aankondiging van die Covid-19-uitbreking en die reisverbod na en van hoë­risikolande soos Duitsland (ons grootste toeriste­mark) ingestel is, het ons toerisme­bedryf beslis 'n knou gekry.

“Nodeloos om te sê, word ons sustermaatskappy, O&L Leisure, erg geknou soos besprekings verminder en gekanselleer word omdat grense gesluit word. Dit alles hou 'n bedreiging vir die maatskappy se omset in.

“Die kleinhandelsektor is ook tans onder druk, aangesien ons afhanklik van invoere uit ander lande is,” het Van der Westhuizen gesê.

Ten spyte van die uitdagings wat Namibië en die res van die wêreld tans in die gesig staar, sê Van der Westhuizen dit is belangrik om positief te bly.

“Perspektief is die sleutel tot balans. Dit is nou belangriker as ooit vir ons om as 'n nasie saam te staan. ­Persoonlike higiëne en gesondheid moet nou voorkeur geniet, sodat ons sterk genoeg kan wees om die ding te oorwin.

“Ons moet na onsself, die gemeen­skap, besighede en die plaaslike ­ekonomie omsien. Kom ons wees paraat in die identifisering van ­geleenthede wat nuwe realiteite vir ons almal kan skep.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!