Oase in die woestyn 'n skat van geskiedenis
Geskiedenis vertel van die oplewing en agteruitgang van ’n eens florerende dorp
Tanja Bause – Destyds is nie daaroor gepraat nie en die presiese ligging van die huis waar die “vroue van die nag” hul dienste aangebied het, is vandag nog ’n geheim.
Die vermoede bestaan dat die huis bietjie buite die dorp in die loop van die Visrivier gestaan het. Dit word vermoed dat die huisie weggespoel het toe die Visrivier ná ’n lang droogte afgekom het.
Selfs ná baie navorsing kan die eienaar van die Seeheim-hotel, me. Marinda Kloppers, nie met sekerheid sê waar die berugte huis geleë was nie, maar sy kan wel bevestig dat dit bestaan het.
“Met my navorsing oor die geskiedenis van Seeheim, het ek op bewyse van die huis afgekom. Ek het selfs by argiewe in Suid-Afrika en Duitsland uitgevind dat die vroue hul dienste net kon aanbied as hulle streng reëls gevolg het – soos dat hulle nie ná 18:00 kon werk nie en dat hulle verplig was om gereeld ’n dokter te sien,” het sy gesê.
Aan die begin van die 20ste eeu was Seeheim die teenoorgestelde van wat dit vandag is. Dit was redelik groot en baie besig.
Kloppers het diep gedelf omdat sy alles oor die nedersetting se verlede wou uitvind nadat sy en haar man Zirkie die ou hotel in 1996 gekoop het. Daarna het hulle restourasiewerk aangepak voordat die hotel in 1998 weer sy deure geopen het.
Nie te ver van die hotel nie, is die spoorlyn besig met treine na Suid-Afrika en die suide van Namibië wat gereeld hier aandoen. Die spoorlyn wat destyds voor die hotel verbygeloop het, word egter nie meer gebruik nie.
“In daardie dae het die stasie gewemel. Die trein het toe elke Woensdag om 06:00 uit Keetmanshoop vertrek en twaalf ure later op Lüderitz aangekom,” het Kloppers gesê. “Die Seeheim-stasie was die enigste verbinding tussen die Noorde, die diamantgebied by Lüderitz en Suid-Afrika.”
Terwyl vrag gelaai is, moes passasiers dikwels ure wag. Wanneer op aansluitings gewag is, moes hulle selfs ’n nag of twee op Seeheim deurbring. Sakemanne het gou die potensiaal van die dorp raakgesien en ’n winkel, drie hotelle en ’n kroeg is geopen. ’n Werkswinkel vir die treine is ook opgerig. Meer en meer mense het huisies op die heuwels gebou en Seeheim het al groter geword.
Van dié kleurvolle verlede kan mens vandag nog net murasies en fondasies sien, en van die drie hotelle is nog net die Seeheim-hotel oor. Op die heuwel regs van die hotel het die Bellevue-hotel gestaan, maar vandag is daar niks meer daarvan te siene nie. Die hotel is erg deur swaar reën beskadig en het daarna al hoe meer vervalle geraak.
Die Seeheim-hotel het vir 24 jaar leeg gestaan voordat die Kloppers-egpaar dit gekoop het.
Op grond van haar soeke na inligting, het Kloppers ’n pamflet saamgestel met die uitleg van die destydse dorp, ou foto’s en ’n kort samevatting van die eertydse geboue. Besoekers kan met dié handige inligting in Seeheim se geskiedenis deel.
Met Kloppers as toerleier, kom ons af op ’n fondasie wat in die dae van weleer die poskantoor se vloer was.
“Seeheim het selfs sy eie posseël gehad,” sê sy. “Dit bewys hoe belangrik en groot die dorp destyds eintlik was.”
Oor die titel van “dorp” is vandag geen sprake nie, hoewel die sjarme van verbleikte prag nog steeds teenwoordig is.
Besoek www.seeheimhotel.com vir meer inligting.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie