Obama groet
Obama groet

Obama groet

Barack Obama, wat op 20 Januarie deur Donald Trump as president opgevolg word, het in sy omvangryke laaste toespraak uit die hart gepraat.
Francoise Steynberg
“Ja, ons kan, ja, ons hét! Dankie. God seën julle. Mag God voortgaan om die Verenigde State van Amerika te seën.”

Met dié paar woorde het pres. Barack Obama gister in Chicago sy laaste toespraak as die 44ste Amerikaanse president afgesluit.

Obama is hierna lank toegejuig terwyl hy onder die klank van Bruce Springsteen se “Land of Hope and dreams” van die verhoog gestap en mense se hande geskud het.

Sowat 35 minute vroeër het hy ook onder groot toejuiging op die verhoog gestap en die skare begroet met die woorde: “Hallo Chicago, dis lekker om by die huis te wees!”

Voordat hy president geword het, was Obama senator vir Chicago.

Sy verkiesingslagspreuk in 2008 toe hy president geword het, was “Ja, ons kan.” Vandaar sy verwysing in sy afsluiting na dié woorde.

Obama, wat op 20 Januarie deur Donald Trump as president opgevolg word, het in sy omvangryke laaste toespraak uit die hart gepraat. Burger­skap was die tema van sy boodskap.

Hy het 'n beroep op sy landgenote gedoen om eienaarskap van hul burgerskap te neem.

Toe Obama teen die einde van sy toespraak sy vrou, ­Michelle, se naam genoem het, het die mense in die saal spontaan opgestaan en haar staande toegejuig.

Obama moes veg teen die trane toe hy oor haar gepraat het.

“Die laaste 25 jaar was jy nie net my vrou en die ma van my kinders nie, maar my beste vriend.

“Jy het 'n rol aanvaar waarvoor jy nie gevra het nie. Jy het die rol jou eie gemaak en jy het dit in styl gedoen,” het Obama gesê.

“Jy het die Withuis 'n plek vir die nuwe geslag gemaak. Jý het my trots gemaak, jý het die land trots gemaak,” het Obama gesê terwyl sy oë van die trane geblink het.

Hy het ook sy kinders, Malia en Sasha, bedank en gesê hy is trots om hul vader te wees.

Obama het met verwysing na Jo Biden, sy visepresident, gesê Biden het vir hom “'n broer” geword.

“Ek groet as president, meer optimisties as toe ons begin het,” het Obama gesê.

“Ek glo Amerika is 'n beter en 'n sterker plek as wat ons was toe ons begin het. Oor die laaste agt jaar is my hoop in die mense van Amerika versterk,” het Obama gesê.

Hy het die Amerikaanse publiek bedank: “Ek het elke dag van julle geleer. Julle het my 'n beter president gemaak, 'n beter man.”

Obama het gesê die wêreld sal oor tien dae sien hoe Amerika 'n nuwe president kry. “Die wêreld sal sien hoe ons vreed­saam en seepglad aan 'n nuwe president oorhandig – net so seepglad soos pres. (George W.) Bush wat in 2008 aan my oorhandig het,” het hy gesê.

In sy toespraak het Obama baie aandag gegee aan die waarde van die demokrasie en die bedreigings wat dit in die gesig staar.

“Die demokrasie het julle almal nodig. Nie net wanneer daar 'n verkiesing is nie, maar regdeur jul lewe.”

In 'n bedekte waarskuwing aan Trump (sonder om hom by die naam te noem,) het Obama gesê die “werklikheid het die vermoë om na jou terug te keer”.

“Dit was 'n eer om julle opperbevelvoerder te wees.”

- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!