• Tuisblad
  • Sake
  • OBK ontken politieke druk voor belegging in Edcon
OBK ontken politieke druk voor belegging in Edcon
OBK ontken politieke druk voor belegging in Edcon

OBK ontken politieke druk voor belegging in Edcon

Hanlie Stadler – Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het Donderdag ten sterkste ontken dat hy weens druk van die vakverbond Cosatu in Edcon belê het.

Deon Botha, die OBK se hoof van korporatiewe sake, sê in ’n verklaring die OBK se belegging van R1,2 miljard in Edcon, namens die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF), “word deur gesonde handels-, maatskaplike en bestuursbeginsels ondersteun”.

Botha sê daar was uitgebreide gesprekvoering met álle belanghebbendes, insluitend die WVF, vakbonde en Edcon, voordat die finale beleggingsbesluit geneem is.

“Die OBK het die transaksie aan sy strawwe interne beleggingsprosesse onderwerp en het nie toegegee aan enige eksterne politieke of vakbonddruk, soos deur sommige mediahuise geïmpliseer word nie.”

Dit kom nadat Bloomberg, ’n nuusdiens waarop Netwerk24 ingeskryf is, ’n brief openbaar gemaak het wat Mathew Parks, Cosatu se parlementêre verteenwoordiger, in Februarie aan die OBK geskryf het.

Daarin dreig hy dat die ANC in die Mei-verkiesing stemme sou verloor as 140 000 mense hul werk weens Edcon se ondergang sou verloor. Parks waarsku ook van ’n “enorme geveg” tussen Cosatu, die OBK en die ANC as die OBK nié help om Edcon te red nie.

Die WVF se R1,2 miljard was deel van ’n totale reddingspakket van R2,7 miljard aan die skuldbelaaide klerewinkelgroep. Die pakket het ook ingesluit dat sekere winkelsentrum-verhuurders afslag op Edcon se huur toegestaan het in ruil vir aandele.

Botha sê indien Edcon toegelaat is om bankrot te speel, sou die einste WVF “die las moes dra” van die werkloosheidsversekeringseise van meer as 140 000 poste wat op die spel was. Dit sluit in 40 000 Edcon-werknemers wat afgelê sou word, sowel as nog nagenoeg 100 000 poste by klerefabrieke en ander verskaffers aan Edcon.

“Die WVF se mandaat vir maatskaplik verantwoordelike belegging laat die OBK toe om in projekte te belê wat werk skep en handhaaf. As daar geen ingrypings deur die WVF en ander belanghebbendes was nie, sou werk by Edcon en maatskappye wat Edcon bedien, verlore gegaan het.”

Die WVF besit danksy die belegging ’n 19%-belang in Edcon.

“Die OBK sal voortgaan om sy mandaat van impakinvestering uit te voer, wat ten doel het om finansiële én maatskaplike opbrengste tot voordeel van sy kliënte en ander belanghebbendes te skep. Die OBK glo impakinvestering is nodig om inklusiewe groei te behaal.”

Die OBK se beleggingsprosesse is tans die onderwerp van die Mpati-kommissie van ondersoek, wat na verwagting teen einde Julie sy werk sal afhandel. Dit kom ná omstrede beleggings in onder meer Ayo Technology Solutions van dr. Iqbal Survé; S&S Refineries, ’n palmoliefabriek in Mosambiek; die hoenderboerdery Daybreak Farms; die studenteverblyfprojek Ikhaya; en tientalle ander.

Die OBK belê benewens die WVF se geld die pensioenfondsgeld van staatsamptenare deur die GEPF. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!