Ode aan ’n 70-jarige jongman.
Die afgelope naweek kom kuier my pa uit Johannesburg vir ons. Hy wys vir Spruit hoe om pasta tuis te maak, ons drink baie wyn, raak nostalgies oor mense wat leef, mense wat nie meer leef nie en mense wat nog lank gaan leef. Hy leer my om die boor te gebruik wat ek twee weke gelede vir die fun in Build It aangeskaf het. Hy bring vir ons mooi klippies en aandenkings van Oumie, wat onlangs op 95 dood is, saam. Hy bring vir Spruit Oumie se Maxwell and Williams-koppie en -piering omdat Spruit van die fyner goedjies in die lewe hou. Hy wys my hoe om die beste uit my nuwe pieperige braaitjie te kry. Die cheap dingetjie wat ek by Checkers gekoop het, word die kern van diep gesprekke met wyne in hande.
Pa word vandeesweek 70, maar hy voel nog 20, sê hy. En kyk hoe lyk my vel, sê hy. Dit maak sulke lyne wat nie vantevore daar was nie. Myne ook, sê ek. En ek voel nog maar ook soos die goth-tiener wat Spruit nou geword het. Ek's eintlik bly ek het nie vergeet hoe dit voel om ’n tiener te wees nie.
Ja, sê Pa, dis nooit te laat om ’n klein seuntjie te wees nie. En hierdie man weet waarvan hy praat. Dis nie asof hy ’n klein seuntjie is nie, maar oud is hy beslis nie. Met elke dekade wat verbygaan, bereik hy mylpale wat die meeste “oumense” nie sommer bereik nie.
Op die ouderdom van 40 hou hy op rook ná iemand vir hom gesê het hy sal dit nooit regkry nie. En hy vervang een verslawing met ’n ander. Hy begin draf. Woes draf. Soos in Comrades-marathon draf. Soos Forrest Gump wat tot aan die einde van die wêreld draf en dan maar weer omdraai en terugdraf. Só ’n soort draf. Tot die draf op is.
Op 50 begin Pa vlieglesse neem. Hy kry allerhande soorte vlieglisensies. Hy vlieg klein vliegtuie, helikopters én sy kleinseuntjiedroom hoog. Wanneer hy nie vlieg nie, hou hy vliegtuie dop. Die naweek vlieg ’n ding oor die huis. Pa spring op en af en val amper by die huis se trappies af om te sien wat dit is. Hy hou heeltyd sy app wat vir jou sê watter vliegtuie waar is, dop. Hy hou selfs die duiwe en budgierige voëltjies wat oor die huis vlieg, dop. Hy kry trane in sy oë omdat hy dit mis om te vlieg. Maar Pa vlieg steeds, dink ek. Niemand kan daai ervaring wat jy wél gehad het, van jou af wegneem nie. Behalwe Alzheimer's seker. Maar ons worry nog nie daaroor nie. Pa lees nog Stephen Hawking en goed soos Hidden in plain sight – the fine tuned universe.
Op 60 kry Pa sy meestersgraad in Kennisbestuur. Hy klim, ná ’n rugoperasie, Kilimandjaro en spring van Blaauwkrans af – 216 m ver met ’n rek om sy voete – die hoogste bungie sprong in die wêreld.
En op 70? Op 70 het hy aspirasies om wing walking te doen. In Amerika iewers.
Versamel eerder ervarings as goeters, sê hy.
Ja, dink ek, want ervarings hou jou jonk, en goeters maak jou oud.
En my ervarings?
Op die ouderdom van 0 kry ek ’n pa. Soos Pa.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie