Oefenkamp begin vir bekendes se gevegte

Boks
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die opbou na 'n geleentheid wat gretig afgewag word, die MTC Knockout-projek, het gister 'n ernstige tree vorentoe gegee toe die bekende persoonlikhede bekend gestel is wat op 12 Oktober by die Windhoek Buiteklub teen mekaar in die bokskryt gaan klim.

Die geleentheid se groot tema is om die bewusmaking van die stryd teen geslagsgeweld in Namibië hopelik 'n nasionale traksie te gee.

Agt skoonhede wat semifinaliste in die Mej. Namibië 2019-kompetisie was, sal daardie aand as krytmodelle optree in spesiaal ontwerpte uitrusting wat as stylvol en elegant beskryf word. Dié agttal is Nashya Dunaiski, Preclina Sagarias, Varaa Hambira, Tracey-Lee Junius, Emily Kandanga, Taylo Mannetti, Lawren Pringle en Michele Labuschagne.

Agt gevegte vir die aand word aangebied, meestal tussen bekende Namibiese mansfigure in die vermaaklikheidswêreld. Elke geveg word oor drie rondes van een minuut elk beslis.

Al die “boksers” het gister van MTC Namibië 'n oefensak ontvang waarin 'n springtou, mondskerm, kopskerm, pleister om hul vuiste toe te draai, handskoene vir oefen (450 gram) en vir die gevegsaand (340 gram), 'n handdoek en beskermende uitrusting vir die lies ingesluit was.

Vir die oorblywende minder as drie maande voor 12 Oktober is elke vegtende paar verdeel om óf by die MTC Salute-boksakademie, óf by MTC Nestor Sunshine boksakademie, óf by Oshakati se MTC Kilimanjaro-boksklub sorgvuldige afrigting vir hul komende missie te ontvang.

MTC se woordvoerder mnr. Tim Ekandjo het al die betrokke persoonlikhede bedank vir hul verbintenis tot die saak om die land van maatskaplike euwels soos geslagsgeweld te bevry.

“Soos enige sport vereis boks 'n hoë vlak van selfdissipline en selfbeheersing. Dit hang dus van jou (die bokser) en jou aangewese afrigter af om 'n geskikte persoonlike oefenskedule uit te werk.”

Kaartjies is te koop by webtickets teen N$250 per persoon of N$10 000 per tafel. Besighede wat hul handelsmerk op die boksbroeke wil adverteer, kan N$50 000 hiervoor opdok.

Die gevegte sal regstreeks op NBC-televisie vertoon word en alle opbrengte word vir welsynsprojekte geskenk.

Die lys van gevegte vir die MTC Knock-out projek:

Junior middelgewig: KP Illest (rapper en wenner van 'n NAMA-toekenning) vs Paul da Prince (TV- en radiopersoonlikheid, R&B-sanger).

Swaargewig: Jossy Joss (bemarkingsbestuurder: Energy 100FM) vs Amos Shiyuka (sakepersoonlikheid en uitgetrede Brave Warrior).

Junior swaargewig: D-Naff (gospelsanger en wenner van NAMA-toekenning) vs Luis Munana (TV-persoonlikheid en regisseur).

Swaargewig: Theo Ishuna (MTC uitvoerende beampte vir sleutelrekeninge en NBC-nuusaanbieder) vs NOG Een.

Supermiddelgewig: DJ Cheeze (Fresh FM DJ) vs Sunny Boy (rapper).

Junior middelgewig: Johnny Johnson Doëseb (sakeman) vs Job Amupanda (politieke aktivis).

Junior middelgewig: Mappz Kapofi (rapper, radio-aanbieder) vs Mufaro Nesongano (NWR kommunikasiebestuurder).

Swaargewig: Michael Vermeulen (besturende direkteur van Mikel Jes) vs Tate Buti (musikant).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!