Okahandja oorhandig klagskrif
Okahandja oorhandig klagskrif

Okahandja oorhandig klagskrif

Tanja Bause
Tanja Bause



Sowat 400 inwoners van Okahandja het Woensdag 'n klagskrif aan die adjunkminister van stedelike en landelike ontwikkeling, mnr. Derek Klazen, by die munisipaliteit se kantoor op dié dorp oorhandig.

Dít volg nadat sowat 100 gemeen­skapslede aanvanklik op 27 Maart na die kantoor opgeruk het en geëis het dat die raadslede vrywillig bedank en hul kantore ontruim.

Volgens mnr. Helodesa Vatilifa, 'n gemeenskapsverteenwoordiger, het die gemeenskap hulle tot Woensdag gegee en gewaarsku hulle sal terugkeer.

In die klagskrif word die dorpsraad onder meer van korrupsie, swak dienslewering en die verhoging van waterrekeninge beskuldig.

Vatilifa, wat die klagskrif oorhandig het, het gesê hulle eis dat die ministerie 'n span aanstel om ondersoek na die beweringe in te stel.

“Die raadslede wat in die korrupsieskandaal geïmpliseer is, moet hul kantore hangende die ondersoek ontruim,” het hy gesê.

Volgens hom moet die munisipaliteitswerkers wat ook geïmpliseer is, geskors word sodat hulle nie by die ondersoek kan inmeng nie.

Die ministerie moet ook 'n span aanstel om die dorp se sake hangende die ondersoek te behartig.

“Inwoners het alle vertroue in raadslede verloor,” het hy gesê.

Volgens Klazen, wat die klagskrif namens minister Peya Mushelenga ontvang het, is die skorsing van raadslede nie 'n eenvoudige aangeleentheid nie.

“Wat die beweringe teen die mense ook al behels, hulle moet eers daaraan skuldig bevind word en dit moet dus eers ondersoek word. Ek verstaan die lot van die gemeenskap, maar daar is wette en prosedures wat gehandhaaf moet word,” het hy gesê.

Hy het die gemeenskap gevra om geduldig te wees en het belowe om spoedig terugvoering te gee.

“so, ons sal wag en kyk wat gebeur,” het Vatilifa gesê.

– Nampa/Eie berig

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer