Okahandja voor afgrond

Talle inwoners meen die tuindorp stuur op ’n krisis af.
Denver Kisting
Denver Kisting op Okahandja – Gemoedere loop hoog op Okahandja omdat groot dele van die dorp teen gister ná byna ’n week steeds sonder water was.

Selfs skole en ouetehuise moes die afgelope dae sonder ’n druppel lopende water klaarkom.

Inwoners meen die binnegevegte by die munisipaliteit – veral binne Swapo – lê vooruitgang en ontwikkeling lam.

Die uitvoerende direkteur van onderwys, kuns en kultuur, me. Sanet Steenkamp, het gisteroggend gesê meer as 1 400 laerskoolleerlinge moes verlede week huis toe gestuur word weens die voortslepende waterkrisis.

Dít, sê sy, was om “deeglike higiëniese standaarde” te verseker “omdat sanitasie grotendeels” geraak word.

Mnr. Charl Coetzee, die voorsitter van die Okahandja-gemeenskapsforum, sê: “Ons soek antwoorde (by die munisipaliteit) wat ons nie kry nie. Ons voel die gemeenskap het die reg om te weet wat aangaan.”

Hy sê hulle stel nie in party- of strugglepolitiek belang nie.

“Ons stel in ekonomiese politiek belang.”

Hulle probeer die gemeenskap verenig, het Coetzee Woensdag gesê.

In ’n poging hiertoe het hulle dr. Panduleni Itula, die voormalige onafhanklike presidensiële kandidaat, verlede jaar genooi om hulle toe te spreek.

“Die jeug is moeg. Hy wil nóú werk hê. Hy lewe nóú.”

Die forum bestaan reeds ses jaar en behels ’n buurtwag, ’n sakekamer en die belastingbetalersvereniging.

Die vereniging mik daarvoor om vanjaar vir die tweede keer aan die streek- en plaaslikeowerheidsverkiesings deel te neem, sê Coetzee.

Deel van die probleem is leierloosheid, omdat Okahandja tans geen ingesweerde raad het nie, sê Coetzee.

Dr. Peya Mushelenga, die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, het dié toedrag van sake erken. “Die termyn van die ampsdraers het in Desember geëindig. Geen nuwe ampsdraers is herkies nie. Die dorp is sonder ’n bestuurskomitee en ampsdraers, soos ’n burgemeester en adjunkburgemeester.”

Hy sê hy sal weet wat die weg vorentoe behels sodra raadslede sy vrae beantwoord.

Mushelenga sê hy het verlede week aan die raad geskryf “om te verduidelik” wat aangaan.

Coetzee sê die dorpsraad sukkel daarmee om met geld te werk.

Maar, sê hy, daar ís werknemers wat hul kant bring.

“Daar is ouens in die munisipaliteit wat regtig hard probeer, en daar is ouens in die private sektor wat geld instoot.”

Die dorp se paaie is ook plek-plek in ’n haglike toestand.

“Sommige slaggate is so groot jy kan lorries daarin verloor,” sê Coetzee.

Soos sake tans staan, het die waarnemende uitvoerende hoof, mnr. Pesella Nunda, sy hande vol, sê Coetzee.

Hy neem waar in me. Martha Mutilifa, wat geskors is, se plek.

Nunda het Woensdagmiddag erken hy is bekommerd oor Okahandja se toekoms.

“Hier is ’n aantal liggings wat sonder water is. Ons het baie hoë druk in die pype wat dit laat bars.”

Hy gee ook toe dit bring gesondheidsuitdagings mee.

“Daar is kommer oor gesondheid wat higiëne betref.”

Nunda sê hulle sukkel om die pype te herstel omdat hulle nie op Okahandja materiaal daarvoor kon kry nie.

Hy het ook erken hulle het teen Woensdag nog met geen alternatiewe manier van watervoorsiening vorendag gekom nie.

’n Bekommerde inwoner sê: “Ons sit nou al vyf dae sonder ’n druppel drink- of toiletwater. Hier kan nou siektes begin uitbreek.”

Dié anonieme inwoner het gisteroggend beweer ’n man in die informele nedersetting verkoop onwettig water.

“Dit lyk my die waternood het nou ’n misdaadelement. Dit is net een siklus op die ander.”

Volgens Nunda is die dorp se watertoevoer gister herstel.

Intussen het twee munisipale werknemers Woensdag in die landdroshof op die dorp verskyn weens die spoorlose verdwyning van N$90 000 – geld wat verlede Vrydag by die plaaslike owerheid ingevorder is.

Die kassiere, me. Ellie van Zyl, en ’n debiteureklerk, me. Paulina Mogotsi, verskyn weer op 1 April in dié hof nadat borgtog geweier is.

Nunda sê Okahandja het sowat 8 000 geregistreerde eiendomme.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!