Okapuka-vleis mag weer landuit
Okapuka-vleis mag weer landuit

Okapuka-vleis mag weer landuit

Die Okapuka-voerkraal waar ''n slag- en bemarkingsverbod die afgelope agt weke tot ''n verlies van miljoene dollar gelei het, is weer oopgestel.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Ná 'n sluiting van byna agt weke is Meatco se Okapuka-voerkraal buite Windhoek weer ten volle in werking.

Dit beteken die 9 000 beeste in die voerkraal kan geslag en die vleis uitgevoer word na die Europese Vryehandelsgebied (EFTA) en ander markte met wie bilaterale ooreenkomste bestaan.

Dié aankondiging is gister deur me. Sophia Kasheeta, waarnemende permanente sekretaris van landbou, water en bosbou en ''n direksielid van Meatco, in Windhoek gemaak.

Adv. Vekuii Rukoro, hoof uitvoerende beampte van Meatco, was nie gister teenwoordig toe die aankondiging gemaak is nie.

Dit is geen geheim dat spanning reeds weke lank tussen Meatco se topbestuur en die direksie oplaai nie.

Rukoro het vroeër tydens ''n media­konferensie die langdurige sluiting en die direktoraat veeartsenydienste (DVS) se drakoniese maatreëls teen die voerkraal as “onredelik” beskyf.

Meatco het sedert die sluiting op 2 September nadat die verbode groeimiddel zeranol in die urienmonsters van twee beeste gevind het, gemiddeld N$5 miljoen per week verloor.

Meatco is kort ná dié mediakonferensie gemuilband en die media is ingelig dat die direksielid en -woordvoerder, mnr. Ronald Kubas, die enigste een is wat vrae oor die voerkraal mag beantwoord.

Die gebeure van die afgelope twee maande het tot groot ongelukkigheid onder produsente gelei, veral aangesien die vleiskorporasie se bestuur in ''n nuusbrief gesê het ''n moontlike skerp daling in pryse kan verwag word.

Dié kommunikasie is gister deur Kubas veroordeel. Hy het aan joernaliste gesê die direksie moet sulke besluite neem en dat die kommunikasie met produsente oor die moontlikheid van ''n prysverlaging van tussen N$5 en N$8 per kilogram, nie goedgekeur is nie.

Meatco se bestuur is ook daarvan beskuldig dat hulle emosionele uitsprake gemaak het.

Die onbetwiste feite is egter dat hoogaanskrewe internasionale deskundiges bevind het die zeranol-toetsuitslae wys dié middel is nie deur ''n inplanting onder die vel toegedien nie, maar dat die beeste dit ingekry het deur gekontamineerde veevoer te vreet.

Zeranol ontstaan as ''n neweproduk wanneer die Fusarium-swam in die voer aanwesig is en gis.

Kasheeta het gister in haar verklaring gesê die besluit om die voerkraal weer ten volle in werking te stel, is geneem nadat “laboratoriumuitslae bewys het die bron van die zeranol in die uriene van die getoetste beeste in die voerkraal het sy oorsprong by swambesmette voer wat aan die diere gegee is”.

Dr. Mauro Mattioli, direkteur-generaal van die EU se Laboratorium vir Voedselveiligheid, het sy bevinding reeds op 6 Oktober in ''n brief aan dr. Milton Maseke, hoofveeartsenybeampte by DVS, bekend gemaak.

Hy stel daarin voor dat dié direktoraat ''n moniteringsprogam instel en die beeste saam met die veevoer toets.

Volgens Kubas het Meatco reeds begin om ''n middel in die veevoer te gebruik wat die toksiese middels daarin bind en neutraliseer.

Verder moet veevoerverskaffers ook kan sertifiseer dat hul produk nie die swam bevat nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!