Old Mutual gee Covid-hupstoot

Die skenking van twee nuwe Covid-19-toetsmasjiene deur Old Mutual sal dit moontlik maak om ongeveer 180 toetse per dag te doen.
Mariselle Stofberg
Mariselle Stofberg - Old Mutual het op Dinsdag (28 April) twee nuwe toetsmasjiene aan die Namibië Instituut vir Patologie (NIP) oorhandig om hul kapasiteit te versterk om vir Covid-19 te toets.

Die twee QIAcube Connect-masjiene sal dit moontlik maak om ’n bykomende 72 tot 96 weefselmonsters per dag te toets.

Die masjiene berei die monsters voor vir toetsing, ’n belangrike taak wat die NIP tot dusver met die hand gedoen het.

“Nou sal ons ongeveer 180 toetse per dag kan doen deur ’n kombinasie van hand- en masjiengedrewe toetse. Die vraag om monsters te toets raak daagliks meer, maar met hierdie nuwe toerusting kan ons die kapasiteit van toetse verhoog en in die rigting van algehele outomatiese toetsing begin beweeg,” sê mnr. Boniface Makumbi, die waarnemende uitvoerende hoof van NIP.

“Ons kan met trots sê ons het tans 10 wetenskaplikes wat toetse doen en in twee skofte per dag werk,” sê Makumbi.

Alle toetse word aan gehaltebeheer onderwerp.

OLD MUTUAL SKENK

Old Mutual het op 31 Maart onderneem om N$5 miljoen in die stryd teen Covid-19 te belê. Die maatskappy het reeds kos ter waarde van N$1 miljoen aan kwesbare gesinne en -individue in die 14 streke geskenk.

Hulle gaan ook N$2,7 miljoen in die uitbreiding van die land se toetsvermoë belê.

“Ons het N$1,7 miljoen aangewend vir toetstoerusting, om die skaal van toetsing te verbreed en om toetstoestelle te verkry. ’n Verdere N$1 miljoen sal belê word in die versterking van die land se vermoë om diegene op te spoor wat in kontak met ’n bevestigde Covid-19-geval was,” het mnr. Kosmas Egumbo, die uitvoerende hoof van Old Mutual gesê.

“Ons het na lande gaan kyk wat reeds Covid-19 beveg en het spesifiek op hierdie gebiede besluit. Dit sal moontlik wees om die tempo van infekterings te verminder deur grootskaalse toetsing wat effektiewe opsporing, isolasie en behandeling insluit. Ons verminder op die wyse die druk op ons gesondheidsfasiliteite,” sê Egumbo.

Deel van hierdie skenking is 42 toetstoestelle, maar weens ‘n tekort aan voorraad is nog net twee toestelle beskikbaar.

Die ander toestelle sal binne die volgende paar weke beskikbaar wees.

Old Mutual gaan ’n verdere N$1,3 miljoen aan die nasionale rampfonds skenk vir die betaling van toelaes aan tydelike gesondheidswerkers.

“Tans is ’n uitstekende voorbeeld van wat kan gebeur as die private- en openbare sektor saamwerk, hulpbronne deel en as ’n eenheid funksioneer,” het mnr. Brian Eiseb, die voorsitter van die NIP-raad gesê.

Eiseb meen dit is noodsaaklik vir die NIP om hul toetsvermoë te verbreed.

“Hierdie nuwe toerusting gaan dit nie net moontlik maak om meer weefselmonsters te toets nie, maar gaan ook help om ons personeel te beskerm deur hulle kontak met monsters te verminder.”

“Aan die mans en vroue wat hulle lewens op die spel plaas om hierdie virus te bestry en die land in hierdie krisis te dra en beskerm, wil ons net sê: Ons is hier vir julle,” het Egumbo gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 18° | 23° Oshakati: 21° | 24° Ruacana: 21° | 26° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 15° | 25° Omaruru: 18° | 28° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 19° | 29° Mariental: 22° | 31° Keetmanshoop: 25° | 36° Aranos: 23° | 33° Lüderitz: 17° | 24° Ariamsvlei: 28° | 39° Oranjemund: 16° | 24° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 22° | 31° Lubumbashi: 17° | 22° Mbabane: 18° | 30° Maseru: 19° | 32° Antananarivo: 15° | 30° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 35° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 19° | 24° Durban: 22° | 30° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 18° | 24° Harare: 17° | 24° #REF! #REF!