• Tuisblad
  • Sake
  • Olie dalk voor Kersfees meer as US$100 per vat
Olie dalk voor Kersfees meer as US$100 per vat
Olie dalk voor Kersfees meer as US$100 per vat

Olie dalk voor Kersfees meer as US$100 per vat

Brent-ruolie het Maandag vir die eerste keer sedert November 2014 tot bo US$80 per vat gestyg.
Total is deel van ’n al hoe groter koor wat verwag dat die olieprys dalk voor die einde van die jaar, maar beslis in 2019, weer US$100 per vat gaan haal.

Anders as wat ’n mens sou dink, is die Franse energiereus nie juis opgewonde daaroor nie.

Patrick Pouyanne, uitvoerende hoof, sê die sanksies wat in November teen Iran ingestel word, sowel as die ontwrigting van produksie in Venezuela, haal voorraad uit die mark uit en gaan oliepryse vir die eerste keer in vier jaar tot ’n driesyfergetal opdruk.

Hy “is nie seker dis goeie nuus” vir die wêreldekonomie nie.

“Selfs nie vir die oliebedryf nie, want, jy weet, as pryse te hoog styg, maak jy die deur vir jou mededingers oop.”

Hy is ook bekommerd dat hoër pryse die vraag na olie sal laat daal.

Die lopie in oliepryse die afgelope ruk het gehelp om die bedryf te stabiliseer ná die ineenstorting van oliepryse in 2014. Die styging kan egter fataal wees vir veral ontluikende ekonomieë, wie se verswakkende geldeenhede beteken olie-invoer word al hoe duurder.

Brent-ruolie het Maandag vir die eerste keer sedert November 2014 tot bo US$80 per vat gestyg.

Dit kom nadat die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) aangedui het sy lede gaan nie hul eie produksie verhoog om te vergoed vir die sanksies op Iran nie.

Bob Dudley, uitvoerende hoof van BP, het vroeër die week gesê die sanksies op Iran se olieverkope gaan die mark swaarder tref as vorige sanksies.

Mercuria Energy het dié week gesê die olieprys kan reeds in die vierde kwartaal tot bo US$100 per vat styg. Trafigura Group verwag dit vroeg in 2019.

Goldman Sachs verwag nié dat die prys in 2019 so hoog gaan styg nie.

Die VSA het dié week gesê hy gaan nie olie van sy noodvoorraad, die strategiese petroleumreserwe, verkoop om pryse af te druk nie. Rick Perry, minister van energie, sê dit sal ’n tydelike en baie beperkte uitwerking hê.

Dit sal tyd neem vir Saoedi-Arabië, die wêreld se grootste olieprodusent, om die produksiegaping te vul wat deur Iran gelaat word, sê Pouyanne.

“In ons bedryf druk jy nie net ’n knoppie en dan vloei die olie nie. Dis ingewikkelder, so dit verg tyd.” – Netwerk24/Bloomberg

GRYSBLOKKIE

Petrolprys vir Oktober

Die sterker rand van die afgelope week gaan dalk meebring dat die petrolprys in Oktober net-net met minder as R1 per liter styg (teenoor die hoër verwagting vroeër die maand).

Die onderverhaling op 95-oktaan-petrol was Donderdagoggend R1,01 per liter. Nog net een dag bly oor voordat die totale onderverhaling vir Oktober se brandstofpryse bekend is.

Die onderverhaling op 93-oktaan-petrol is nou net onder R1 per liter (R1 as dit afgerond word).

Die onderverhaling op die groothandelprys van diesel is nagenoeg R1,24 per liter.

Die brandstofpryse vir Oktober kan enige oomblik van Vrydag af aangekondig word. Dit is van Woensdag 3 Oktober van krag.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!