Oliepryse nie sommer gou laer
Oliepryse nie sommer gou laer

Oliepryse nie sommer gou laer

Julian Lee, Bloomberg – Twee groot internasionale energie-organisasies verwag ’n traer groei in olievraag teen die einde van volgende jaar, maar dit beteken nie die olieprys gaan ook daarmee saam daal nie.

Reeds hoë pryse, handelsoorloë en verswakkende geldeenhede eis hul tol op die groei in die vraag na olie.

Kommer dat daar nie genoeg ekstra produksievermoë is nie, steun volgehoue hoë oliepryse.

Sowel die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) as die Internasionale Energieagentskap (IEA) verwag die internasionale olieverbruik sal teen volgende jaar met sowat 1,36 miljoen vate per dag toeneem.

Dit is heelwat minder as wat dit die afgelope jare was sedert oliepryse van 2014 af begin daal het. Dit is ook veel meer pessimisties as albei organisasies se vooruitsigte in Julie.

’n Selfs kleiner aanvraag is dalk op pad. Neil Atkinson, hoof van die IEA se oliemarkafdeling, sê enige veranderings in die vooruitsig op olievraag in 2019 sal eerder afwaarts as opwaarts wees.

Die IEA se jongste verslag oor olievraag in 2019 sê “duur energie is terug”.

Die prys van ruolie het vroeër vandeesmaand sy hoogste vlak in byna vier jaar gehaal. Die swakker wisselkoers van Indië en China se geldeenhede teen die dollar het die impak van die hoër olieprys verskerp. Dis van Indië en China waarvandaan die grootste toename in olievraag kom.

In Indië het motoriste vroeër die maand rekordpryse vir petrol en diesel betaal, al is oliepryse sowat 45% goedkoper as die hoogtepunt van 2008. Die Indiese regering het in reaksie die belasting op brandstof verminder en staatsbeheerde brandstofmaatskappye gevra om ekstra brandstofprysstygings te absorbeer. In China betaal motoriste die afgelope jaar al 28% meer vir brandstof.

Die laer voorspelde groei in olievraag weerspieël ook die laer verwagtings oor internasionale ekonomiese groei van die Internasionale Monetêre Fonds en die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling.

Die handelsoorlog tussen Amerika en China dra by tot die kommer oor ’n verlangsaming in internasionale handel.

Die laer verwagte groei in vraag kan tot laer pryse lei, maar met die winter in aantog in die Noordelike Halfrond is daar kommer of daar genoeg ekstra olieproduksievermoë is om te vergoed vir enige ontwrigting van voorraad.

Iran se olie-uitvoer het met 39% geval sedert Amerika nuwe sanksies teen die land aangekondig het wat op 4 November in werking tree.

Opul en Rusland sukkel om te vergoed vir die val in olieproduksie van Iran en Venezuela – ondanks Russiese produksie wat die hoogste is sedert die einde van die Sowjetunie asook Saoedi-Arabië se naby-rekordhoeveelhede en met Libië op sy hoogste produksievlakke van die afgelope vyf jaar.

Boonop hou Nigerië in Februarie verkiesings, wat tradisioneel spanning verhoog in die olieproduserende Niger-delta.

Die IEA beraam Opul het sowat 2 miljoen vate per dag se ekstra produksievermoë. Maar dié aanname is nog nie getoets nie en dit is met die veronderstelling dat die politieke twispunte opgelos word wat produksie in sommige lande knou. Die werklike onmiddellik beskikbare produksievermoë kan minder as die helfte hiervan wees. Dié perk sal help om oliepryse hoog te hou totdat ekstra voorraad wel beskikbaar word. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!