Oliesoekers pypkan waterregulasies
Oliesoekers pypkan waterregulasies

Oliesoekers pypkan waterregulasies

Frank Steffen
Frank Steffen – Die Kanadese mynmaatskappy ReconAfrica het sonder die nodige permitte vir water in die Kavango geboor.

Ses boorgate is gesink: twee om in die prospekteringspan se behoeftes aan water te voorsien en vier vir die gebruik van gemeenskappe by die toetsgate op Kawe en Mbambi.

Me. Maria Amakali, adjunkdirekteur van watersake, het die week gesê sy het eers in Junie vanjaar vir die eerste keer die aansoeke onder oë gehad. Die permitte is volgens haar op 28 Junie toegestaan.

Boorwerk het egter reeds in Januarie by Kawe begin en in Februarie het minister Calle Schlettwein toegegee dat geen permitte hiervoor uitgereik is nie. Die werk is in Junie voltooi, waarna na Mbambi versit is.

Amakali was aan die woord toe verteenwoordigers van die ministerie van landbou, water en grondhervorming Dinsdag voor die Nasionale Vergadering se staande komitee oor natuurlike hulpbronne verskyn het.

Haar onvermoë om fyner besonderhede te verstrek, het die komitee se voorsitter, mnr. Tjekero Tweya, briesend gehad. Hy het amptenare in ‘n stadium 15 minute gegun om met alle aansoeke en permitte vorendag te kom.

Die ministerie het nie die projek gekritiseer nie en aangevoer dat ReconAfrica minstens “probeer” het om aan alle vereistes van die omgewingsimpakstudie te voldoen.

Die sink van ‘n sewende boorgat by Mutwewambe is volgens die ministerie nog nie goedgekeur nie. Daar is ook nie ‘n permit vir die wyse waarop afvalwater hanteer word nie.

Volgens Amakali het ReconAfrica die waterboorgate ook nie soos regulasies voorskryf met sement gedek nie, wat volgens haar die gevaar van besoedeling verhoog. Die toetsgate wat vir prospekteringsdoeleindes gebruik word, is ook nie behoorlik geseël nie.

Sulke projekte mag volgens Amakali in die toekoms net toegelaat word onder toesig van haar ministerie, wat in die geval ontbreek het.

Amakali het gesê amptenare wou op 24 Februarie ‘n inspeksie by Kawe uitvoer, maar is toegang deur ReconAfrica geweier.

“Ons is ingelig dat dit ‘n tegniese hoërisikogebied is,” het sy verduidelik. Toegang is eers op 4 Junie bekom.

Die minister het ter afsluiting gesê beter samewerking is met eweknieë by omgewing, bosbou en toerisme nodig om veilige eksplorasie-aktiwiteite te verseker wat nie die natuur skade kan berokken nie.

Die ministerie oorweeg tans ‘n permanente verbod op minerale eksplorasie in beskermde en ander watersensitiewe gebiede. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 37° Rundu: 22° | 38° Eenhana: 21° | 37° Oshakati: 22° | 34° Ruacana: 19° | 37° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 21° | 36° Omaruru: 20° | 38° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 18° | 34° Henties Bay: 14° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 18° | 34° Mariental: 18° | 35° Keetmanshoop: 18° | 35° Aranos: 17° | 35° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 17° | 34° Oranjemund: 14° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 16° | 32° Lubumbashi: 16° | 33° Mbabane: 12° | 25° Maseru: 7° | 24° Antananarivo: 17° | 27° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 19° | 30° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 24° Durban: 14° | 23° Johannesburg: 13° | 27° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 30° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!