Oliesoektog: D-dag vir besware om die draai

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die olie- en gasmaatskappy Reconnaissance Energy Namibia (ReconAfrica) moet teen Vrydag 5 Februarie sy aansoek vir ’n omgewingsklaringsertifikaat (ECC) by die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme indien.
’n Omgewingsimpakstudie (EIA) en -bestuursplan (EMP) moet dié aansoek vergesel. ReconAfrica se boorinstallasie waarmee hy sowat 50 km suidoos van Rundu sy eerste toetsgat gaan boor, het in Desember per skip by Walvisbaai aangekom. Die prospektering sal toon of daar wel olie is.
Dié Kanadese groentjie in die olie- en gasbedryf hou in voorleggings aan voornemende beleggers vol hy het “’n massiewe petroleumbron in die Kavangokom ontdek”. Dié bron “kan miljarde vate olie” lewer, sê hy.
ReconAfrica haal op sy webblad ’n geochemikus, Dan Jarvie van Worldwide Geochemistry, aan wat sê die aard van die sediment is sodanig dat dit “produktief” sal wees en “hoë gehalte olie lewer”.
ReconAfrica het Woensdag in Vancouver, Kanada, aangekondig hy het Polaris Natural Resources Inc gekontrakteer om die tweedimensionele (2D) seismiese opnames te doen.
Die maatskappy is van plan om oor 450 km 2D-data te versamel, te verwerk en te interpreteer. Dit maak volgens hom deel uit van die program om drie gate vir prospektering te boor.
“Die voorgestelde seismiese opname sal langs bestaande paaie gedoen word,” lui die verklaring.
ReconAfrica sê ook hy is bly om aan te kondig die goedkeuringsproses vir ’n klaringsertifikaat het begin en vergaderings in dié verband sal gehou word. ’n Luide wekroep deur omgewings- en ander drukgroepe klink die laaste paar maande op verskeie platforms op teen die plan om hier na olie te soek – enersyds omdat fossielbrandstof-ontginning indruis teen klimaatsplanne en tweedens omdat dit ’n verwoestende impak op die ongerepte Okavango-delta kan hê.
Laasgenoemde is een van die mees ikoniese natuurgebiede ter wêreld, en is in 2014 as wêrelderfenisgebied gelys.
ReconAfrica se stigter en medeaandeelhouer, mnr. Craig Steinke, het in Desember in ’n onderhoud met Republikein ontken dat hidrobreking as ontginningsmetode gebruik gaan word.
Dit is ondanks aanduidings vroeër aan beleggers dat “moderne brekingstimulerings” die groot volumes olie sal lewer.
Risk-Based Solutions (RBS), wat tegniese spesialisdienste vir maatskappye in die olie-, gas-, mineraal- en energiebedryf lewer, het die publiek in kennisgewings na drie openbare vergaderings uitgenooi.
Die eerste een vind vandag op Nkurenkuru en die tweede een Vrydag op Rundu plaas. Van 23 tot 25 Januarie kom plekke soos Ncamagoro, Gcuru, Ncuncuni en Ncaute aan die beurt.
Belanghebbendes moet per e-pos by [email protected]. na registreer, of hulle kan dr. Sindila Mwiya van RBS by 081 141 3229 bel.
Skriftelike voorleggings deur geraakte partye moet RBS teen Vrydag, 29 Januarie bereik.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer