Oliesoektog: 'Kyk omvattend na impak'
Oliesoektog: 'Kyk omvattend na impak'

Oliesoektog: 'Kyk omvattend na impak'

'n Aanbeveling is gemaak vir 'n omvattende strategiese ondersoek na die langtermyn impak van volskaalse olie-ontginning in die Okavango-delta.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die Wêreld-Natuurfonds (WWF) sê ReconAfrica moet 'n eenmalige strategiese omgewingstudie (SEA) oor die impak van sy moontlike olievonds in Kavango en Botswana laat doen.

Dit moet volgens internasionale standaarde geskied en onafhanklik geëvalueer word, sê die WWF in 'n kennisgewing wat gister in ­koerante gepubliseer is.

Dié Kanadese olie- en gasmaat­skappy het reeds begin om die eerste van drie gate vir die ­ stratigrafiese ontleding van die aardkors te boor. Dit is by Kawe suid van Rundu.

Verder is die omgewingskonsultant Risk-based Solutions namens die maatskappy besig om 'n aansoek vir 'n tweede omgewingsklaringsertifikaat voor te berei wat op 12 Februarie by die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme ingedien sal word. Daarsonder kan ReconAfrica nie met tweedimensionele seismiese opnames in die Kavango begin nie.

Die maatskappy volg die benade­ring dat besluite oor verdere ­eksplorasie geneem sal word op grond van wat die seismiese opnames wys, en besluite oor die omvang en metode van ontginning sal net geskied op grond van die uitslag van die stratigrafiese boortoetse. “Hierdie benadering beteken omgewingsimpakstudies word stapsgewys onderneem en fokus net op 'n bepaalde aspek van die eksplorasie,” sê die WWF.

Die potensiële omvang van die operasie, die grootte van die ­Kavango-kom, sy komplekse hidrologie en die moontlikheid van langtermyn skade indien hidro­breking byvoorbeeld vir ontginning gebruik sou word, beteken hierdie stapsgewyse benadering is nie die beste praktyk nie, meen dié ­ natuurliggaam.

Volgens die WWF kan reuse-ekonomiese en -politieke uitdagings ontstaan as baie geld en ­politieke kapitaal nou belê word, en omgewingsimpakstudies verder in die toekoms toon die risiko's vir skade aan die biodiversiteit, grond­waterbesoedeling en die welsyn van die plaaslike kommunale gemeenskappe is te groot.

PLAASLIKE GEMEENSKAPPE

“Daarom word aanbeveel dat in belang van bewaring, die plaaslike gemeenskappe en die ­betrekkinge tussen Namibië en sy buurlande, 'n SEA ingevolge internasionale standaarde uitgevoer word en dat dit aan onafhanklike evaluering ­onderwerp word,” lui die WWF se aanbeveling.

Die kwelpunte wat in ag geneem moet word, is die ergste moontlike omgewingsimpakte as ­volskaalse ontginning sou geskied, hoe sensi­tiewe gebiede geskaad kan word, die uitwerking op watervoorsiening – ook stroomaf van die ­Kavangorivier op die buurland Botswana.

Die WWF beveel verder aan aangedag moet gegee word aan verbode gebiede en beperkings op sekere booroperasies en ­onttrekkingsmetodes, asook ­bestuursopsies vir van hierdie ­potensiële skadelike impakte.

Dié liggaam sê 'n SEA sal voorkom dat die regering ingetrek word in 'n situasie wat vorentoe baie moeilik gaan wees om om te keer.

Aangesien ReconAfrica beplan om sy operasies ook na Botswana uit te brei, sê die WWF die SEA moet die impak op die totale ­Okavango-delta in ag neem.

Die vorige SEA van dié aard wat gedoen is en waarvoor 'n strategiese bestuursplan (SEMP) opgestel is, is die uraanprovinsie in die sentrale Namib.

'n Multidissiplinêre koördine­ringskomitee hou toesig oor die implementering van hierdie ­bestuursplan.

'n Navraag hieroor is gister aan me. Claire Preece, woordvoerder van ReconAfrica, gerig.

Die maatskappy het teen druktyd nog nie kommentaar op die aan­bevelings gelewer nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!