Oliesoektog skop af
Oliesoektog skop af

Oliesoektog skop af

“Propoganda” en “verkeerde inligting” oor ReconAfrica se oliesoektog het onder skerp kritiek deurgeloop toe die ekplorasie begin het.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer en Kenya Kambowe



Ondanks groot kommer uit bewaringsgeledere oor die impak van olieontginning in die Kavangokom op die naasliggende Okavango-delta, het die regering Donderdag sy volle steun aan Reconnaissance Energy Africa (ReconAfrica) gegee toe boorwerk by die Kawe-nedersetting afgeskop het.

Drie gate van nagenoeg 4 km diep gaan geboor word om vas te stel of daar wel olie en gas in dié sedimentêre gesteentes uit die Permiaanse tyd (geologiese tydperk 245 miljoen jaar gelede) is soos wat die maatskappy se elektromagnetiese data toon.

Die Kavangokom grens aan die Okavango-delta, ’n wêrelderfenisgebied met ’n unieke vleiland-ekologie.

Mnr. Graig Steinke, stigter en aandeelhouer, het Donderdag op Kawe aan joernaliste gesê dié sedimentêre gebied is omtrent die grootte van Switserland.

ReconAfrica, ’n Kanadese groentjie in die olie- en gasbedryf wat nog geen ontginning voorheen gedoen het nie, se eksplorasielisensie laat hom toe om oor ’n uitgebreide gebied van 25 500 vierkante kilometer in die noordoostelike hoek van Namibië na olie te soek. Sy lisensiegebied net oos daarvan in Botswana strek oor ’n gebied van 9 900 vierkante kilometer tot teenaan die Okavango-delta.

Mnr. Simeon Negumbo, uitvoerende direkteur van myne en energie, het gesê almal wat vrae oor die verkenningsaktiwiteite deur ReconAfrica het, is welkom om hul navrae aan die ministerie te rig.

"Die ministerie van myne en energie sal as reguleerder van die energiesektor verseker dat hierdie aktiwiteite streng volgens wetgewing en regulasies met betrekking tot energie- en omgewingsbeskerming plaasvind," het Negumbo gesê.

“Ons belowe ook ons ondersteuning aan ReconAfrica en alle belanghebbendes om te verseker alle aktiwiteite word op 'n volhoubare en verantwoordelike manier uitgevoer. Net so het die goewerneur van Kavango-Oos, mnr. Bonifatius Wakudumo, gesê dié streek steun die oliesoektog.

Die Nasionale Petroleumkorporasie van Namibië (Namcor) se besturende direkteur, mnr. Immanuel Mulunga, het die “propaganda” teen die soektog na olie en gas veroordeel en gesê “verkeerde inligting” is die rede daarvoor. Namcor het ’n 10% aandeel in dié projek.

“’n Maatskappy soos ReconAfrica het ander geleenthede gehad om elders in die wêreld te gaan, maar hulle het besluit om na Namibië te kom, maar ongelukkig is daar mense wat sê dat hierdie maatskappy gaan hidrobreking doen en die ondergrondse omgewing vernieting as hulle in die Okavango-delta boor, wat nie waar is nie, ” het Mulunga gesê.

“Ons moet vir die mense daar buite die waarheid vertel omdat dit ’n belangrike aktiwiteit vir Namibië is, want dit kan baie voordele vir die plaaslike gemeenskap, die sentrale regering en organisasies soos Namcor inhou. Ons staan ten volle agter hierdie aktiwiteit.

Ons gaan ReconAfrica die hulp verleen as 'n vennoot; ons sien uit na wat gaan gebeur en hopelik kan ons koolwaterstowwe vind,” het hy gesê.

Me. Surina Esterhuyse, geohidroloog verbonde aan die sentrum vir omgewingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat, sê “die probleem met die ekplorasieboorwerk is dat besoedeling afgevoer kan word na die Okavango-delta met sy unieke vleiland-ekologie. Dit is belangrik om te weet dat die maatskappy op enige plek in sy lisensiegebied kan boor en dit strek tot reg teen die Okavangorivier”.

Steinke lê in sy verweer teen omgewingskundiges deurentyd klem daarop dat die boorterrein 50 km vanaf die Okavangorivier is.

Esterhuyse wys egter daarop dat hulle voornemens is om by die Omatako-omuramba se boor, wat een van die voedingsbronne van die Okavangorivier is.

Dr. Mechtild Rössler, direkteur van Unesco se Wêrelderfenissentrum, sê die Wêrelderfeniskomitee het nog altyd “‘n sterk standpunt ingeneem teen die eksplorasie of ontginning van olie- en gas in so gebied, omdat dit onversoenbaar is met die status van wêrelderfenisterreine”. Unesco is die Verenigde Nasies se onderwys-, wetenskap- en kultuurorganisasie.

Drukgroepe onder die vandal van die Namibië Kamer van die Omgewing (NCE) meen nie genoeg belanghebbendes is geraadpleeg vir die omgewingsimpakstudie (EIA) ingevolge waarvan ‘n omgewingsklaringsertifikaat (ECC) uitgereik is nie.

Hulle het ook aangedring om die spesialisstudies te sien wat gedoen is, en wou insae hê in die omgewingsbestuursplan (EMP).

ReconAfrica is tans besig om ‘n EIA voor te berei vir sy aansoek vir ‘n omgewingsklaringsertifikaat wat hom sal toelaat om met tweedimensionele seimiese opnames langs ‘n gebied van 450 km in die aardkors te begin.

Dr. Chris Brown, direkteur van die NCE, het aan Republikein gesê ‘n versoek is aan ReconAfrica gerig om nie net met belanghebbendes in die Kavangostreke te vergader nie, maar ook met kundiges en organisasies in Windhoek. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer