Olifantbestuur ‘wetenskaplik, nie volgens emosie’
Beweringe dat die olifantverkope gekoppel is aan korrupsie, die Kavango-olieboorprojek of stemwerwing vir Swapo is ongegrond, sê die uitvoerende direkteur.
Francoise Steynberg – Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme sê Namibië bestuur sy olifante volgens wetenskaplike beginsels en nie emosie nie.
Die uitvoerende direkteur, mnr. Teofilus Nghitila, doen ’n beroep op Namibiërs en die internasionale gemeenskap om die “nonsens, onakkurate en vals berigte en aannames oor ons olifante en volhoubare gebruikspraktyke” te ignoreer.
Sy mediaverklaring Maandag volg op internasionale protes en mediaberigte oor die tender vir die verkoop van 170 olifante in Namibië wat verlede Vrydag gesluit het.
“Hierdie berigte en kommer van internasionale media, diereregtegroepe, individue en selfverklaarde bewaringskenners is ongegrond, misleidend, onakkuraat en sonder enige waarheid,” sê Nghitila.
“Beweringe dat die olifantverkope gekoppel is aan korrupsie, die olieboorprojek in die Kavango of die Swapo-party wat stemme wil werf, is heeltemal ongegrond.”
Nghitila hou voet by stuk dat Namibië ’n gesonde, groeiende olifantbevolking het “met drie keer meer olifante as tydens 1990” en dat hul habitat uitgebrei het.
Hy sê in 1995 het die land sowat 7 000 olifante gehad, in 2004 sowat 16 000 en tans is die bevolking meer as 24 000. Die beoogde verwydering van 170 olifante is dus slegs een persent van die bevolking wat ook nie uit bewaringsgebiede en nasionale parke verwyder sal word nie, maar van kommunale en kommersiële boerderygebiede.
“By Omatjete is sowat 60 olifante waarvan 30 verkoop sal word; in die Kamanjab-gebied sowat 120 waarvan 50 verkoop sal word; by die Grootfontein-Kavango-beesplase sowat 130 waarvan 60 verkoop sal word en in die Grootfontein-Tsumkwe-gebied sowat 70 olifante waarvan 30 verkoop sal word,” bevestig Nghitila.
GROOT OLIFANTSENSUS
Die rede waarom Namibië nie aan die Groot Olifantsensus in 2016 deelgeneem het nie, is omdat dit “deur emosie en nie wetenskap nie” gedryf is, sê Nghitila.
Namibië beoog om vanjaar ’n nasionale olifantopname te doen “indien hulpbronne dit toelaat” en die opname sal uitgekontrakteer word.
Volgens hom word die veiling gedoen op grond van die uitdunning van die groeiende olifantbevolking om die impak van die jarelange droogte en die konflik met menslike bevolkings te verminder.
Wat mens-olifant-konflik betref, sê Nghitila in 2020 het grootvoete twee beeste doodgemaak en duisende vee van drinkwaterpunte verjaag (weens mededinging vir water), 3 346 hektaar gewasse van landelike gemeenskappe en boere vernietig en graanbergingsplekke en huise beskadig waar boere veevoer stoor.
Hy sê skade is ook herhaaldelik aan waterinfrastruktuur en heinings berokken en een persoon is beseer wat vir die res van sy lewe gestrem is.
‘LEUNSTOEL-BEWAARDERS’
“Daar is voorstelle van ons kritici dat ons ons eie mense se pleidooie moet ignoreer ten koste van toeriste en wense van leunstoel-bewaarders duisende kilometers vanaf Namibië.
“Dít ondanks die feit dat ons burgers aanvaar het om hul lewensruimte met wilde diere te deel wat hul eiendomme en bronne van lewensbestaan – en selfs menselewens – vernietig,” beklemtoon Nghitila.
“Dit is jammer om te sien mense dink steeds Namibiërs en Afrikane kan nie hul eie sake bestuur nie. Ons geduld word erg beproef.”
Oor die oorgrens-argument – dat olifante migreer en nie net aan Namibië behoort nie – sê Nghitila dit is “absolute nonsens”. Hy sê as oorgrensbewegings bygereken word, sal Namibië selfs meer as 24 000 olifante hê met die “sowat 130 000 olifante in Botswana, 80 000 in Zimbabwe, 50 000 in Zambië en 10 000 in Angola”.
Hy sê die vyf lidlande van die Kavango-Zambezi-oorgrensbewaringsgebied (Kaza) het olifante met nekbande toegerus om hul bewegings te monitor en onderhandelinge is aan die gang om ’n olifantopname in Kaza te doen.
Wat die proses van die oopstel van tenders en evaluering daarvan betref, sê Nghitila dit sal onder toesig van beamptes van die tesourier van die finansiesministerie gedoen word voor finale goedkeuring deur die omgewingsministerie.
Die opbrengs van die veiling, sê hy, sal in die Wildproduktetrustfonds gestort word om vir wildbewaring en landelike ontwikkelingsprojekte te gebruik.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie