Olifantkarkas in Kavango gevind
'n Olifantkarkas is Saterdag op die plaas Nanava, sowat 90 km suidoos van Rundu in die Kavango-Oosstreek gevind. Die woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, mnr. Romeo Muyunda, sê beamptes van sy ministerie, en die Namibiese polisie se eenheid vir beskermde hulpbronne (PRU) en spesiale magte het die saak ondersoek en 'n skietwond bo die regteroog van die olifant ontdek. Die olifanttande is nie verwyder nie. “Geen patroondoppies is op die toneel gevind nie. Die olifant is dalk elders geskiet en het in die landery van die plaas geval. Die toneel is ook deur vee vertrap wat in die landery gewei het, en dit moeilik gemaak het om te bepaal waarvandaan die olifant gekom het,” het Muyunda gesê. Inwoners het ook volgens hom nie veel inligting verskaf nie en niemand is in hegtenis geneem nie. Die tande is verwyder en is in veilige bewaring by die Rundu-polisiekantoor. Muyunda sê die vars vleis is vir die gemeenskappe gegee. Foto verskaf
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie