Olifantkonflik: Boere ly erge skade
’n Slypskool oor die nasionale olifantbewaring- en bestuursplan is verlede week in die hoofstad aangebied wat deur die landbousektor bygewoon is.
Francoise Steynberg
Olifantbewaring en –bestuur kan nie gebeur sonder die betrokkenheid van die mense wat die nouste saam met hulle lewe nie.
Só het die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, verlede week tydens ’n slypskool oor die nasionale olifantbewaring- en bestuursplan in die hoofstad gesê.
“Olifante het ’n groot impak op kommersiële en kommunale boere in verskeie streke en eis sy tol op veral landelike gemeenskappe, waterinstallasies, infrastruktuur, tuine, vee- en gewasboerdery,” het Shifeta gesê.
Hy sê olifante bedreig die lewensbestaan van baie gemeenskappe, individuele kleinboere, asook kommersiële veeboere.
“Dit is uitsonderlik en hoogs noemenswaardig dat plaaslike gemeenskappe en kommersiële boere so verdraagsaam is en toenemend boerderypraktyke aangepas het om saam met olifante te leef,” het die minister boere geprys.
“In Namibië is olifante nie slegs tot beskermde gebiede beperk nie en deel grond met landelike gemeenskappe. Olifantbewaring moet ’n wen-wen-situasie vir mense wees om olifante op die lang termyn te verduur.”
Die minister sê olifantkonflik bestaan steeds by Kalkfeld, Vingerklip, Omatjete, Kamanjab en die Grootfontein-gebiede, asook in kommunale gebiede in die streke van Erongo, Kunene, Omusati, Oshana, Oshikoto, Ohangwena, Otjozondjupa, Kavango-Wes- en –Oos en die Zambezi.
Volgens die voormalige permanente sekretaris en tans konsultant, dr. Malan Lindeque, is die vier grootste probleemgebiede vir olifantkonflik Kamanjab/Otjikondo en Ugab/Omatjete in die Noordweste en in die Noordooste by Kavango/Mangetti en die bewaringsgebiede van Nyae-Nyae en N‡a Jaqna.
Namibië se groeiende olifantbevolking staan volgens Lindeque tans op sowat 24 000.
“Daar is kommunale boere wat reuseskade aan heinings en waterinfrastruktuur in sommige gevalle van meer as N$200 000 gely het,” het Lindeque gesê.
CITES
Volgens die minister is die belangrikste beloning (buiten onder meer bewaringsjag) die waarde van olifante wat uit die handel in ivoor gegenereer kan word.
“Die handel in ivoor word tans erg deur die optrede van diereregtegroepe gekniehalter wat die besluite van die Konvensie vir die Handel in Bedreigde Spesies (Cites) beïnvloed. Dit ondermyn Namibië se bewaringsprogramme,” het Shifeta beklemtoon.
“Vir hoe lank dit nog die geval gaan wees, is onduidelik, maar ons verdraagsaamheid word ernstig getoets.”
Shifeta sê Namibië het groot opgehoopte waardevolle wildprodukte soos ivoor wat volhoubaar geproduseer en deeglik gereguleer kan word as daarmee internasionaal handel gedryf word.
“Die wettige handel in ivoor kan olifantbewaring en –bestuur vir dekades lank ondersteun,” sê hy.
Lindeque het dit beaam en gesê met die inkomste uit die wettige handel in ivoor kan vir boere ordentlike heinings opgerig word om olifante uit hul plase te hou.
“Ons is voorstander van 'n kollektiewe benadering tot die regulering van internasionale handel, maar uiteindelik moet ons optree in die belang van bewaring en die landelike mense wat so belangrik is om die lot van olifante op die lang termyn te bepaal,” het die minister gesê.
“Olifante is deel van die natuurlike hulpbronne van Namibië waaroor ons volle soewereiniteit het en daar is ’n beperking op hoeveel eksterne inmenging ons sal aanvaar in die gebruik van hierdie hulpbron,” het Shifeta gemaan.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie