Olimpiese Winterspele: Gaan jy saam?

As die heersende Afrika-manskampioenspan van die laaste drie geleenthede is Namibië in die binnebaan vir 'n seldsame deurbraak.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Groot opgewondenheid heers in die geledere van die Namibiese Ysstokvereniging oor die nuus dat dié sport volwaardige lidmaatskap van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) verkry het – 'n besluit wat tydens die afgelope IOK-vergadering in Tokio geneem is.

Dit beteken die Namibiese Ysstokvereniging (ook bekend op die Engelse of Duitse benamings, Icestock of Eisstock) het 'n uitstekende vooruitsig om die land se eerste sportkode te word wat 'n span na die Olimpiese Winterspele kan stuur.

Dié sport, wat waarskynlik die beste beskryf kan word as rolbal op ys, word gespeel deur spanne van vier spelers (plus een plaasvervanger), asook in die afsonderlike enkelspelkompetisie.

Die Namibiese vereniging is in 2004 gestig – skaars 'n maand voor hul eerste deelname aan die wêreldkampioenskap in Graz, Oostenryk. Die Namibiërs het toe reeds geslaag in hul beskeie doelwit om nie laaste te eindig nie (twaalfde uit 13 spanne). Die kampioenskap was egter 'n wekroep dat hulle 'n paar verkeerde gewoontes aangeleer het tydens die skrale vier oefensessies wat hulle voor hul vertrek gehad het.

Sedertdien het dinge voortdurend gevorder. Vier jaar later was Namibië negende en het boonop ook vir die eerste keer met 'n vrouespan deelgeneem.

In 2012 in Waldkraiburg (Duitsland) was die Namibiese mans agtste, gevolg deur sewende plekke in 2014 (Innsbruck) en 2016 (Ritten). In Amstetten, Oostenryk, was hulle vyfde en by die laaste wêreldkampioenskap van Maart 2020 in Regen, Duitsland, behaal die manspan 'n tweede plek in die B-wêreldkampioen­skap en staan vir die eerste keer op die podium.

Laasgenoemde span het uit die kaptein Detlef Pfeifer, Armin Komma, Jesaya Mweshipopya en Andreas Schindler bestaan.

As die heersende Afrika-manskampioenspan van die laaste drie geleenthede en met die Afrika-rekordhouer in die enkelspel, Cobus Harmse van Windhoek, in hul geledere, is Namibië in die binnebaan om bo Kenia die vasteland se verteenwoordiger te word indien ysstok in enige van die volgende Olimpiese Winterspeles se skedule ingesluit word.

Te midde van die terugslae wat die Covid-19-pandemie toegedien het deur die gedwonge kansellasie van die Namibiese nasionale kampioenskap en die Afrika-kampioenskap, wat vandeesmaand in Windhoek sou plaasvind, was daar ook 'n afname in die aantal aktiewe spelers.

Met die nuutste hupstoot hoop die vereniging om nuwe talent te lok, met die rugsteun van die IOK en die vooruitsig om Namibië by die Olimpiese Winterspele te verteenwoordig.

Die Namibiese Ysstokvereniging is reeds sedert 2004 by die Namibiese Sportkommissie geaffilieer en is ook 'n lid van die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee, sê sy president, mnr. Detlef Pfeifer.

“Ons wag nou op die wêreldbeheerliggame, om meer besonderhede te hoor van ysstok se insluiting in toekomstige Olimpiese Speles, asook hoe die proses van kwalifisering gaan werk,” sê hy.

Pfeifer erken dat meer werk gedoen moet word om die sport se plaaslike profiel op te hef, om meer aktiewe spelers te betrek en meer klubs met beter geriewe op die been te bring. Volgens hom is drie klubs by die nasionale vereniging geaffilieer.

“Tans is SFC op Swakopmund en DTS in Olympia dormant, grootliks vanweë Covid. Daar is ook Windhoek-rolbalklub by die parlementstuine.

“Ons sal op die uitkyk wees vir nouer skakeling met rolbalklubs – want die gooi-aksie van ysstok en begrip van die reëls kom van nature vir spelers wat gesout in rolbal is.

“Ons vereniging kan ook met rolskaatshokkieklubs saamwerk, omdat ons sport op dieselfde oppervlak gespeel kan word, óf op sementblaaie.”

Belangstellendes kan Pfeifer by 081 128 3480 of per e-pos na [email protected] bereik.

Die Internasionale Ysstokfederasie se president, Christian Lindner, het uiteraard die Olimpiese lidmaatskap verwelkom: “Die IFI is vasberade om die pad te stap om aan alle kriteria van die IOK te voldoen en ons wintersport op die gebiede van sigbaarheid, verteenwoordiging en aanloklikheid vir die jeug te ontwikkel en te bevorder.”

• Nog vyf sportkodes wat in Tokio volwaardige Olimpiese lidmaatskap verkry het, is cheer­leading, lacrosse en die gevegsporte Muay Thai, sambo en skopboks.

FOTO’s
Die hoogtepunt in die geskiedenis van Namibiese ysstok was die manspan se silwermedalje by die 2020 B-wêreldkampioenskap in Duitsland. Foto verskaf
Só lyk ’n ysstok. Foto Allgemeine Zeitung
Mnr. Detlef Pfeifer, president van die Namibiese Ysstokvereniging, wys die brief waarin die sport se Olimpiese toelating aangekondig is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!