Olimpiër emigreer na Kiwiland
Michelle Vorster het vir haar tweede Olimpiese Spele later vanjaar gekwalifiseer.
Andrew Poolman – Eerstehandse inligting was gister teen druktyd nog skraps rakende die Namibiese Olimpiese bergfietsryer Michelle Vorster en haar gesin se verhuising na Nieu-Seeland.
Haar man, Johan, het Saterdag laatmiddag hierdie teksboodskap gestuur: “Aan al ons vriende aan wie hierdie boodskap gestuur word: ons het ons vlug gehaal en is nou op pad om 'n nuwe hoofstuk in ons lewens te begin.
“Ons sou graag aan almal totsiens wou sê, maar met Covid op ons voordeur, moes ons die hartseer besluit neem om weg te bly en om op God te vertrou vir ons negatiewe toetsuitslae gister (Vrydag). Ons almal is gesond en is toegelaat om die vlug na Nieu-Seeland te haal. Ons is op die vliegtuig en opgewonde om op te styg op pad na die nuwe. Ons hoop om julle almal weer eendag te sien.Hope liefde, Johan, Michelle, Fiona, Talaya en Johan-Albert Vorster.”
Sedertdien, tot druktyd gisteraand, het die koerant vergeefs uitgereik om meer agtergrond oor die Vorsters se “nuwe hoofstuk” te verkry.
Gister namiddag het Johan egter aangedui dat hy vanweë komplikasies met vlugreëlings te besig was om te gesels en dat hy later sou reageer.
Michelle Vorster (42) was 'n ontsaglike aanwins vir Namibiese fietsry vandat sy en haar Suid-Afrikaans gebore man in 2013 van hul vorige tuiste in Oos-Londen na haar geboorteplek Windhoek verhuis het.
Vorster sal altyd die titel dra as die eerste Namibiese vrou wat in bergfietsry vir die Olimpiese Spele (Rio de Janeiro 2016) gekwalifiseer het.
Hoewel sy eers op 'n betreklik laat ouderdom ernstig oor bergfietsry geraak het en reeds die ma van drie kinders was, was juis dit inderdaad haar motivering om ook aan ander vroue te bewys dat enigiets moontlik is.Sy het in 2015 haar eerste bronsmedalje by die Afrika-kampioenskap in Rwanda verower, voor haar eerste Afrika-goud twee jaar later in Mauritius.
Sy het haar prestasies volgehou deur ook vir die volgende Olimpiese Spele in Tokio te kwalifiseer, wat verlede jaar sou plaasvind totdat dit vanweë die coronaviruspandemie tot vanjaar uitgestel is.
In padfietsry was sy ook 'n dominerende figuur in plaaslike resiese, met net Vera Adrian wat haar by nasionale kampioenskappe kon klop. As spanmaat het Vorster inderdaad 'n bydraende rol gespeel toe Adrian in Februarie 2016 in Casablanca die Afrika-titel – en ewe geskiedkundige Olimpiese kwalisering – behaal het.
Die Namibiese fietsry-afrigter, Hans du Toit, sê hy weet min oor die Vorsters se skuif, behalwe dat hulle wel die emigrasie beplan het.“Haar man Johan is 'n siviele ingenieur en hy het 'n werkaanbod in Nieu-Seeland gekry. Ek weet hulle het die verwikkeling maar stil gehou totdat alles bevestig is en hul visums vir Nieu-Seeland verkry is. Ek dink nie eens die fietsryborge in Namibië het veel geweet nie.”
Du Toit sê die migrasie is gewis nie slegte nuus vir Michelle as fietsryer nie.“Bergfietsry in Nieu-Seeland is groot en hul beroepspanne is baie sterk. Sy sal dus deurlopend aan sterk kompetisie blootgestel word.
“Ek dink nie enigiets verander aan haar opbou na die Olimpiese Spele nie. Sy bly 'n Namibiër. Die wêreld is vandag mos klein en 'n mens kan enige tyd 'n vliegtuig na enige bestemming haal.”– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie