Om deur die krake te val
Alhoewel die inligting vervat in die verslag van die ministerie van onderwys in Republikein van 14 Januarie ontstellend is, is ek daarvan oortuig dat onderwysgemeenskappe dit waardeer.
Een basiese verantwoordelikheid van die demokratiese verkose regering is tog om deursigtig te wees en die burgers ingelig te hou. Twee aspekte van die verklaring gaan eerstens oor die leerlinge wat ná die heropening van die skole in 2020 nie teruggekeer het skool toe nie, en tweedens oor die aantal meisies wat tussen Maart en September 2019 swanger geraak het. Die leerlinge wat nie teruggekeer het nie, het met 5 000 toegeneem en die swanger meisies met 3 600 sedert die uitvoerende hoof van onderwys se soortgelyke verklaring in 2020.
Die minister se woordkeuse dat die meer as 30 000 leerlinge deur die “krake geval het en nie opgespoor kan word nie”, is nie aanvaarbaar nie.
“To fall through the cracks” is 'n Engelse (Amerikaanse) idioom wat beteken dat iets verlore gegaan het weens 'n gebrek aan aandag. Die Britse ekwivalent is ”to slip through the net”. Een toepaslike verduideliking is (en ek gee dit in Engels), “not to be helped by a system, which is supposed to help you”. Ek dink nie dat so 'n erkentenis die minister se bedoeling was nie.
Voortydige skoolverlating (dropouts) is vir menige onderwysstelsels 'n reuse-kopseer waaroor daar heelwat navorsing gedoen en geskryf is.
Die oorsake is kompleks en kan gevind word in leerlingbestuur (klaskamer- en ekstra-kurrikulêre bestuur ingesluit) sowel as in die sosioëkonomiese omgewing van leerders. Verder dui navorsing aan dat gereelde en langdurige afwesigheid uiteindelik op vroeë skoolverlating uitloop; die ongelykhede in gemeenskappe is ook duidelike aanduiders van die verskynsel.
Tot dusver is dit duidelik dat onderwysowerhede nie kon slaag om beleid as 'n suksesvolle teenvoeter te formuleer nie. Op grondvlak blyk skole ook hulpeloos te wees om die verskynsel te beveg. Moet onderwysgemeenskappe nou aanvaar dat dit 'n geval is van hulp wat weerhou is waar dit absoluut nodig was?
Die ministerie se erkentenis dat dit nie weet waar die meeste van hierdie kinders is nie, is net so min aanvaarbaar. 'n Skool hou tog volledige data, onder andere inligting oor ouers en voogde, sowel as hul volledige kontakdetail. Dit sal net regverdig teenoor onderwysgemeenskappe wees as die ministerie bekend maak watter strategieë dit sal implementeer om hierdie kinders op te spoor. Dit sal 'n tragedie wees as hierdie kinders eenvoudig afgeskryf word.
'n Ander aspek wat sy aanraak, is tienerswangerskappe. Die oorsake hiervan is al deeglik onder die loep geneem en ten spyte van ons progressiewe beleid, eindig die meeste gevalle ook in vroeë skoolverlating. Hierdie syfers het oor die jare nie betekenisvol afgeneem nie en dit is duidelik dat kurrikulum aangaande seksvoorligting en programme (Window of Hope en My Future my Choice) nie veel help nie.
'n Laaste aspek wat die ministerie aanspreek, is die onderrig- en leertyd wat verlore gegaan het sedert die uitbreek van die corona-pandemie. In haar verklaring meld die minister dat 'n totaal van 567 dae oor die hele spektrum (voorgraads tot graad 12) aan onderrig- en leertyd verlore gegaan het. Dit beteken dat 'n reuse-deel van die voorgeskrewe kurrikulum nie aandag kon kry nie. Ek is nie oortuig dat die herstelperiode van vyf weke genoeg is om verlore tyd in te haal nie. Miskien sal dit wys wees om te gaan kyk na die herstelplan van Suid-Afrika wat oor drie jaar sal strek.
Ek dink dat die tyd aangebreek het dat die ministerie weer gaan kyk na sy Covid-19-strategieë en beleide rakende voortydige skoolverlating en tienerswangerskappe.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie