Om u2018n outentieke lewe te lei
Om u2018n outentieke lewe te lei

Om ‘n outentieke lewe te lei

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Die Professionele Sprekersvereniging van Namibië (PSAN) bied Saterdag (28 Oktober) ‘n konferensie met die tema Die Outentieke Lewe – Om soos die werklike jy te leef (The Authentic Life – Living as a real you) aan.

Die konferensie is deel van ‘n paar geleenthede wat PSAN ook aanstaande jaar sal aanbied en wat ook op die outentieke gebaseer is. Plaaslike sowel as buitelandse sprekers sal die verhoog by die konferensie deel, wat Saterdag van 07:30 tot 12:00 by die Vineyard Country Lodge aangebied word.

Van die sprekers sluit in mnr. Siegfried Lange wat tydens sy praatjie vaardighede met konferensiegangers sal deel oor hoe om die verlede as ‘n wegspringplek vir die toekoms te gebruik. Nog spreekbeurte behoort aan mnr. Gustaf Gous, bekend vir sy leierskapsprogramme op Robbeneiland met die tema Short Walk to Freedom©, mnr. Brendan Ihmig, ‘n digitale entrepreneur en sosialemediafoendi, asook mnr. Michael Chikwililwa, wat vervelige en emosielose toesprake en voorleggings in vertonings met impak omskep.

PSAN is in Mei 2016 in die lewe geroep en is ‘n vereniging van vrywilligers wat ten doel het om lede te ondersteun om uitnemendheid in hul loopbane as professionele sprekers te bereik, hetsy as afrigters, skrywers, fasiliteerders of ontwikkelaars van opleidingsprogramme. Die vereniging bedien sprekers binne die geografiese grense van Namibië, maar is ook ‘n lid van die Globale Sprekersfederasie (GSF).

Dit verskaf platforms en hulpbronne aan Namibiese sprekers om hul vaardighede as professionele sprekers te slyp en ook hul besighede as professionele sprekers te versterk en uit te brei.

PSAN het tans 36 lede, en lidmaatskap word in drie groepe verdeel, naamlik professionele lede, medelede en kandidaatlede.

Vir meer inligting oor PSAN en die naweek se konferensie, skakel (+264) 81 128 1626 of (+264) 61 222520, of besoek die webtuiste by www.psanamibia.org. Die organisasie kan ook op Facebook gevind word as Professional Speakers Association of Namibia.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer