Om 'n vlietende oomblik se emosie vas te vang
Die Namibies-gebore kunstenaar Cristina Salvoldi maak opslae met haar lewensgetroue beelde.
Sy is gefassineer met beweging en probeer vlietende oomblikke vasvang wat emosie ontlok en die humor, tragedie en skoonheid van die lewe wys.
As die gebore en getoë Namibiër Cristina Salvoldi die beste deel van haar kunstenaarskap en haarself kan opsom, is dit om die vaardigheid te kan beoefen om kreatief probleme op te los.
Sy is dankbaar vir haar vermoë om iets met haar hande te kan bou, die tasbare, fisieke, 'in-die-wêreld' aard van haar werk.
“Ek is selde verveeld omdat elke projek sy eie, nuwe uitdagings bring,” vertel sy. Daarin is die genoegdoening, om aan die einde van die dag 'n sigbare, tasbare en hopelik estetiese produk te ervaar.
“Dis die oomblikke van kinderlike entoesiasme, vreugde en verwondering wat die skoonheid en die eenvoudige skep van iets, kan ontlok.”
Cristina het haar skoolloopbaan by die Deutsche Höhre Privatschule (DHPS) in Windhoek begin en afgesluit. Vandag is Kommetjie in Suid-Afrika haar tuiste, waar sy opslae maak met onder meer beelde wat sy lewensgroot uit brons optower. Cristina is een van die kunstenaars verantwoordelik vir beelde wat deel van die Long March to Freedom-projek in die buurland is.
Sy onthou haar ma het haar en haar broer altyd met kunsvlytprojekte in die gesin se “stokperdjiekamer” besig gehou.
“Ek onthou onder meer klippe- en paaseiers verf en papier maak. My ma het eksperimentering aangemoedig en het dikwels algemene huishoudelike items aangepas om 'n slim oplossing vir byvoorbeeld 'n speelgoedraaisel te vind.”
Sy was op skool gek oor die kunsklas, maar onthou veral die twee jaar op laerskool toe hulle ses maande elk naald-, hout-, metal- en ook keramiekwerk gedoen het, vertel Cristina.
“Ons kon een van die dissiplines vir 'n hele jaar kies en ek het keramiek gekies.”
Sy was lief vir al die verskillende mediums, hoewel sy erken sy was “gefrustreerd met hout en metaal” omdat dit fisieke krag vereis het en sy “klein” van postuur was.
Cristina het ook buitemuurse klasse by Barbara Schwerdfeger geneem wat nie net onderrig in klassieke teken en skilder gegee het nie, maar ook in onder meer keramiek, papiermaché, knoopdoop en pleisterwerk.
“Ek is min geïnspireer om kuns op my eie te beoefen, maar was beslis lief vir die kreatiewe uitdagings wat kunsprojekte van verskillende mediums gebied het.”
Sy was nog altyd 'n voorstander van die benadering tot kuns dat daar 'n rede is hoekom jy iets maak. Dit is tien teen een hoekom sy haar aanvanklik in die filmbedryf begewe het.
“Daar is 'n opdrag, 'n produk wat gemaak moet word.”
Die pret is in die proses van probleemoplossing, sê Cristina oor hoe om die eindproduk te bereik. “Dit is moontlik ook waarom ek 3D bo 2D verkies.
“Ek het dikwels verkies om eerder na myself as 'n vakman as 'n kunstenaar te verwys.”
In 2009 is Cristina vir 'n uitruilingsprogram vir kunstenaars gekies wat deur p.art.ners Berlin-Windhoek aangebied is, met Berlyn wat vir vier maande haar tuiste was. Dit is hier waar sy haar eerste uitstalling met die tema Human Being – Being Human gehou het. Die uitstalling het 'n versameling figuratiewe werk in brons en gemengde media ten toon gestel.
Dit is vir haar moeilik om 'n gunstelingmedium te kies, erken sy.
Sowat 'n jaar gelede sou sy sê haar verkose medium is plastine-klei omdat die feit dat dit nie droog raak nie, haar toelaat om lank aan 'n produk te werk.
“Ek het onlangs egter met keramiekklei begin werk en is gefassineer deur die spoed waarteen jy moet werk, sowel as die natuurlike tekstuur wat bereik kan word.”
Dit is egter dikwels die eindproduk of -effek wat dikteer watter medium is gebruik om dit te skep, vertel Cristina.
Plastine-klei werk goed vir stukke wat gegiet moet word, en wat in óf brons óf plastiek of 'n sementagtige materiaal gegiet word. Keramiek- en betonbeelde is hul “eie finale produk”, dus is die vermorsing van materiaal aansienlik minder, verduidelik sy.
Haar betrokkenheid by Long March to Freedom het in 2013 begin nadat sy in dié jaar deur 'n kontak by die smeltery van die projek gehoor het.
Die projek was op soek na nuwe kunstenaars vir die tweede ronde van beeldhouwerke en Cristina het besluit om 'n brief aan die organiseerders te skryf om te sê sy stel belang. Sy is die naam gestuur van die menseregte-aktivis Ray Alexander Simons met die opdrag om 'n klein beeldhouwerk (maquette) te stuur wat Cristina se interpretasie van haar uitbeeld.
Sy het 'n ontmoeting met die kliënt gehad en is gevra om 'n lewensgrootte weergawe van haar maquette te maak. Cristina was ook verantwoordelik vir die beelde van Govan Mbeki en Bertha Mkhize. Haar betrokkenheid eindig egter nie hier nie en sy het ook die voorreg gehad om saam met medekunstenaars te help skep aan die beelde van Winnie en Nelson Mandela, asook die Sisulu-egpaar, Walter en Albertina.
“Dit is 'n grootskaalse projek; baie kunstenaars was met die verloop van tyd hierby betrokke.”
Sy is “baie bevoorreg” om deel te kon word van 'n “klein beeldhouspan” wat bestaan uit 'n medekunstenaar en iemand wat sy mentor.
“Ons werk verskriklik goed saam en het wonderlike geleenthede gehad om monumentale werk te doen. Een voorbeeld is die ses meter-beeld van Mandela, terwyl daar nog een van sewe by nege meter as gevolg van politieke rompslomp in die pyplyn wag.”
Dit is vir haar op sommige maniere wel makliker om 'n werklike persoon te herskep omdat jy met 'n bestaande verwysing kan werk, sê Cristina.
“Danksy dié verwysing en die feit dat mense die persoon ken, moet 'n mens werk totdat die persoon se essensie daar is vir ander om te sien.”
Met 'n fiktiewe karakter is daar meer ruimte vir artistieke vertolking, maar die gebrek aan verwysing kan dit ook 'n uitdaging maak, sê Cristina, wat erken sy geniet die uitdagings van realistiese portretkuns.
Vir Long March to Freedom was die historiese akkuraatheid baie belangrik en daar was sekere sterk riglyne waaraan die beelde moes voldoen. Dit sluit in dat al die figure moes stap en vorentoe kyk sodat al die beelde saam as 'n geheel deel van die optog is.
Sy probeer om soveel as moontlik inligting en foto's oor die persoon te kry, verduidelik Cristina.
“'n Mens kry 'n gevoel van hul persoonlikheidskenmerke en hoe hulle sou optree. Tydens dié proses materialiseer 'n houding en posisie wat die beste die persoon se wese en gees verteenwoordig.”
Die kleredrag waarin die persoon uitgebeeld word, moet ook verteenwoordigend wees van die historiese tydperk waarin die persoon aktief was. Bykomende items en voorwerpe kan ook gebruik word as simbole vir die invloedryke werk wat die betrokke persoon gedoen het.
Die patina of koperkleur kan volgens Cristina ook as 'n simboliese hulpmiddel gebruik word.
“Die uitdaging lê daarin om te probeer om elke beeld uniek te maak. Soos die totale aantal beelde groei, is daar minder en minder oorspronklike idees om van te kies. Die visie van die hele versameling beelde is om 'emosielose, feitelike' historiese figure uit 'n handboek uit te beeld as tasbare, feilbare, unieke mense by wie jy aansluiting kan vind. Die projek bring geskiedenis in die 'nou' en stel die kyker in staat om saam met een van hierdie 'elke dag helde' te stap en te wees.
Volgens Cristina is 250 kg koper vir die beeld van Winnie Mandela gebruik wat 1,85 m hoog is. Dit het twee beeldhouers sowat 'n week geneem om die maquette te konseptualiseer en 'n verdere drie weke om die lewensgrootte beeld te maak. Die verbronsingproses duur nog 'n verdere agt tot tien weke.
Danksy haar “nuuskierigheid” oor verskillende mediums, het haar vorige werk gewissel. Dit het meestal bestaan uit opdragte vir projekte, produkte vir die film- of televisiebedryf, en die laaste paar jaar meer in die vorm van openbare kunswerk met die “nou en dan se persoonlike kunswerk tussenin”.
“Ek wil graag op my eie kuns begin fokus om 'n portefeulje van my werk te bou wat outentiek meer verteenwoordigend van my is. Ek speel met die idee om 'n 'brand' te begin. Op 'n manier wil ek graag my kuns met humanitêre projekte verbind. Soos jy kan sien, is ek besig om bestek van my lewe te neem en my pad vorentoe te bepaal . . . opwindende, vreesaanjaende tye! Ek mag dalk selfs een van die dae na myself as 'n kunstenaar verwys!”
Long March to Freedom is 'n optog van 400 individue wat vanaf die vroeë 1700's tot Vryheidsdag in April 1994 in Suid-Afrika teen onderdrukking baklei het. Dit strek oor vier eeue van Suid-Afrika se geskiedenis en is 'n poging om die historiese ongelykhede te takel wat bestaan in 'n kulturele landskap besaai met koloniale oorwinnings en rasse-segregasie.
Met die skep van die eerste 100 bronsfigure het die projek verskeie werksgeleenthede geskep:
*40 professionele beeldhouers en hul assistente het opdragte ontvang om lewensgrootte bronsbeelde te maak.
*8 Suid-Afrikaanse smelterye was betrokke in die vervaardiging en installering van die bronsbeelde.
*5 minder ervare kunstenaars is opgelei en gementor in die kuns van bronsbeeldhouwerk.
Ray Alexander Simons
(12 Januarie 1913 – 12 September 2004)
Ray Alexander is in die Baltiese staat van Letland gebore en is op 'n jong ouderdom blootgestel aan sosialistiese en kommunistiese idees wat ingesluit het die belangrikheid van die organisering vir die bevordering van werkers se regte.
In 1929 is sy op die ouderdom van 15 na Suid-Afrika gestuur om haar by haar broer en suster in Kaapstad aan te sluit. Binne dae van haar aankoms sluit sy by die Kommunistiese Party van Suid-Afrika (CPSA) aan waar sy invloedryke lede van verskeie werkersunies ontmoet.
Teen 1935 is sy die sekretaris van die Kommersiële Werknemersunie en 'n voltydse organiseerder van die Nie-Europese Spoor- en Hawewerkersunie. Haar hooffokus bly die beweging vir vakbonde en sy word aangewys as die algemene sekretaris van die Voedsel- en Inmaakwerkersunie (FCWU), 'n doeltreffende en militante organisasie. Toe die Nasionale Party as regering die organisasie verban, is sy onder dié wat as 'n kommunis gelys is.
In 1953 bestel die apartheidsregering 'n verbanningsbevel op haar en word sy gedwing om uit die FCWU te bedank. In 1954 help sy om saam met Helen Joseph, Lilian Ngoyi en Florence Mkhize die Federasie van Suid-Afrikaanse Vroue (FEDSAW) te stig. Sy is ook betrokke by die organisasie se Vrouehandves. Nog 'n verbanningsbevel dwing haar om uit FEDSAW te bedank en weerhou haar om in 1956 aan die Vroue-optog na die Uniegeboue deel te neem. Tog is sy aktief betrokke by die werwing van deelnemers uit Kaapstad.
In 1941 is Ray Alexander met prof. H.J. Jack Simons getroud, 'n toegewyde kommunis en professor in Afrikastudies aan die Universiteit van Kaapstad. Die egpaar verlaat in 1965 Suid-Afrika vir Zambië van waar hulle af en toe Engeland besoek.
Hulle is die skrywers van Class and Colour in South Africa: 1850-1950 wat in 1969 gepubliseer is, 'n baanbrekersontleding van die verhouding tussen klas en ras in die Suid-Afrikaanse politieke en maatskaplike geskiedenis. Met hul terugkeer uit Lusaka in 1967 is die egpaar die eerste wittes wat as amptelike lede van die African National Congress (ANC) in 1969 aanvaar word.
As gesoute vakbondleier was Ray Alexander aan die stuur van die ondergrondse SAKP se vleuel vir vakbonde. In 1978 bied sy aan om vrywillig lesings in die MK-opleidingskampe in Angola te gee. Die egpaar was die eerste bannelinge wat in 1990 na Suid-Afrika teruggekeer het. Sy het as raadgewer vir verskeie vakbonde, die ANC en SAKP opgetree en ook 'n boek begin skryf oor haar betrokkenheid in die FCWU.
Sy word in Long March to Freedom vereer vir haar bydraes tot organisasies soos die SAKP, ANC en FEDSAW, verskeie vakbonde, Namibië se Swapo en ook die New Women's Movement.
In 2004 ontvang dié strydros van die bevrydingsbeweging die ANC hoogste eerbewys,
Isithwalandwe (die een wat versier is met die pluime van die bloukraanvoël). Die toekenning is tradisioneel bestem vir “uitstaande stryders” wat hul in die stryd onderskei het met uitsonderlike leierskapkwaliteite.
Ray Alexander Simons sterf op die ouderdom van 91 in Kaapstad.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie