Om te kan braai . . .
Om te kan braai . . .

Om te kan braai . . .

Minette Brink
Minette Brink - Ek kan alles behalwe drie lewensbelangrike goed self doen.

Die perfekte sonkant-bo-eier bak en ‘n motorenjin regmaak, dié is bo my vuurmaakplek.

Maar die mees tragiese is dat ek nie kan braai nie. Ek sukkel selfs om die hout brand te steek as daar nie ‘n minstens ‘n halwe pak aansteker betrokke is nie. Dit breek my hart. En ek stres heeltyd dat die Voortrekkers my Voortreflike Drawwertjie-balkie van 1978 gaan kom afvat.

Braai is ‘n helende, heilige ritueel met ‘n uiters belangrike rangorde. Kyk maar as die manne opruk vir die seremonie.

Daar is die Braaimeester wat die bevele gee en alleenreg op die vuurmaak, toerusting en vleis-diagnoseer-en-draai het. Hy het gewoonlik ‘n spesiale voorskoot aan met een of ander slagspreuk soos “Ek laaik braai kwaai, want ek kan kwaai braai.”

Aan sy regterkant is “Wingman 1”, wat soos ‘n teatersuster die snydokter se sweet op die voorkop moet dep met ‘n klam lappie en sorg dat hy nie dehidreer nie. Nommer Een is gewoonlik ook die oorsaak dat die meester al hoe harder begin praat en die vleis teen 23:45 nog nie reg vir eet is nie.

Aan sy linkerkant is “Wingman 2”, wat fyn houtjies moet soek en stompe aangee en die gasvrou moet inlig oor die vordering met die vleis.

Die res is ondersteuners met die hutsmerk #KenJouPlek. Uit dié geledere sal jy nie enige raad of kommentaar oor die Braaimeester se vernuf of gebrek daaraan hoor nie. ‘n Nuweling mag dalk die wet oortree, maar hy word vinnig agter die meester se rug stilgekyk of die onderwerp word blitsig en luid verander.

Die meeste mans wat ek ken, kan vuurmaak. Die meeste kan, net soos ek, helaas nie braai nie. Maar hulle is om die een ander rede oortuig hulle is die beste. Min dinge maak my so diep ongelukkig soos ‘n prima stuk vleis wat met teatrale bewegings en onnodige byklanke verinneweer word tot die status van ‘n hartseer tjeeuwie-tjoppie. Geen suurlemoensap of speserye kan help kou deur ‘n “chewy” stuk leer nie. Geen. Maar so braai die “meester” voort.

Gelukkig is daar twee ligstrale in my lewe. Kom ek noem hulle maar Boela en Buks om moontlike wrewel onder die ander mansvriende te verhoed.

Beide weier om met ‘n span te braai en laat my elke liewe keer sprakeloos kwylend oor hul talent en die perfekte palatumsimfonieë wat van die rooster af kom.

Hulle kan alles gelyk ook braai - tjops, filetskywe, hoenderboudjies, oepsies, wors, sosaties, rib, noem op. Alles. Op. Een. Slag. En as jy vra vir “medium rare” dan kry jy dit. Dis verstommend.

Ek het hulle al gevra om my te leer, maar dit help niks. Die aantal sekondes vir die hand-bo-die-kole-reël, draai, moenie draai nie, gooi nou speserye, gooi ná die tyd speserye, dis als net te ingewikkeld.

Elke Vrydagmiddag maak ek vuur (as daar nog aansteker oor is van die maand se voorraad). Sodra die vlamme ná so drie ure uiteindelik begin regop kom, sit ek terug en bekyk die storie. Dan berei ek myself met groot erns sielkundig voor en “lees” die kole met bloedbelope, tranerige oë en ‘n lelike hoes. Fokus nou, sal ek prewel en als presies doen soos hulle my geleer het. Ek vergeet by tye om asem te haal, so intens raak dit. Maar nee . . . tjeeuwie-tjoppies.

Dan bel ek maar vir Boela en Buks om te hoor wanneer kom hulle weer see toe.

En gaan koop ‘n sak vol slaptjips vir die pyn.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!