Om te vergewe is eintlik nogal 'badass'
Om te vergewe is eintlik nogal 'badass'

Om te vergewe is eintlik nogal 'badass'

Karin Eloff
Ek het onlangs op die beste ding in 'n lang tyd op Facebook afgekom. Anders as die gewone irriterende inspirerende ou boodskappies en meme en mooi, leë woordjies, het 'n video my wind skoon uitgeslaan.

Die video is getiteld Forgive Assholes en is geplaas deur 'n Facebook-groep met die naam Makers.

Hulle beskryf hulself as 'n feministiese mediahandelsmerk vir nuusmakers, geskiedenismakers en moeilikheidmakers.

Ek like dit sommer al klaar.

“Ons deel stories oor vandag se grondverskuiwende vrouens om môre se teweegbringers van verandering te inspireer.”

Ek kan steeds nie uitfigure wat die vrou in die video se naam is nie, maar ek dink sy's my nuwe rolmodel.

Sy's nie 'n spring chicken nie, sy's oortrek van die tatoes, pragtig, sterk, rustig en haar wyse woorde val diep.

Hier is wat sy sê: “Ek glo regtig dat wanneer iemand anders ons sleg behandel, ons verbind is daaraan deur iets soos 'n ketting.

“Vergifnis is niks anders as 'n daad van getrouheid aan 'n poging om boosheid te bestry nie.

“So, dis nie regtig 'n daad van welwillendheid nie; dis nié om 'n deurmat te wees nie.

“Vir my is dit regtig baie meer badass as dit.

“Miskien beveg wraak of om aan jou woede vas te klou, nie eintlik daai boosheid nie.

“Miskien voer jy dit net.

“Uiteindelik, as ons nie versigtig is nie, maak ons die lelikste deel van ons vyande deel van onsself.

“En op 'n manier word ons dan soos hulle.

“So, wat as vergifnis eerder 'n manier is om 'n boutsnyer te vat en daai kettings wat my met boosheid verbind, te breek, eerder as 'n sissierige manier om te sê 'dis oukei'?

“Dis soos om te sê 'wat jy gedoen het, is só nié oukei nie, dat ek weier om myself daaraan te verbind.

“Vergifnis gaan daaroor om 'n vryheidsvegter te wees.

“En mense wat vry is, is gevaarlik, hulle word nie deur die verlede beheer nie.

“Hulle lag meer as ander, vry mense sien skoonheid waar ander dit nie sien nie, hulle neem nie maklik aanstoot nie, hulle is nie bang om domheid op die waarheid te wys nie, en hulle word nie deur wrokke vasgeketting nie.

“Dít is die moeite werd om voor te baklei.”

Ek kon dit nie beter gesê het nie.

Ek dink nie die vrou bedoel as iemand jou te na kom, moet jy een­voudig terugsit en doen niks nie, Gods water maar oor Gods akker laat loop nie.

Maar as jy alles gedoen het wat jy kan, jy't 'n saak by die polisie aanhangig gemaak, of jou mond oopgemaak en gesê dis nie cool nie, of jy't jou goedjies gevat en uit daai verhouding gestap - wat help dit jy bly aan jou wrok vasklou?

Die enigste mens wat jy seermaak, is jouself.

Dis mos nie lekker om heeltyd in negatiwiteit rond te rol nie.

Natuurlik is hierdie makliker gesê as gedaan.

As iemand my kind seermaak, sal ek hulle verseker nooit as te nimmer vergewe nie, behalwe as vergifnis presies is wat hierdie vrou sê dit is – om daai kettings te breek, om die boosheid as't ware te ontmagtig, te minag.

En dít is verseker badass.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!