Om te vertrou, ondanks die droogte
Om te vertrou, ondanks die droogte

Om te vertrou, ondanks die droogte

Mandy Rittmann
BAREND JANSE VAN RENSBURG, PLAAS OMAUE, OMARURU SKRYF:

Ek dink weer aan die situasie waarin ek myself bevind.

Dit is reeds diep in Maart. Ons beste reënmaand. Ons het nog geen reën ontvang nie.

Vandag wys die aasvoëls reeds die eerste hongerdood koei aan my uit. En die eerste tietiebottel-kalf gaan huis toe. Of dit die dooie koei se kalf is, weet ek nie. Dis moontlik.

Die oorsaak daarvan is dalk deels vanaf bestuurskant afkomstig. Maar dis met goeie rede. Luiperds en drade wat plat lê, gekombineerd met die vorige uitmergelende droë jare. Maar dan, dis die reënseisoen!

Sou ons al reën ontvang het, sou die koeie se kondisie alreeds noemenswaardig verbeter het, sou hulle die kalfies van voldoende melk kon voorsien, sou dit met my boerdery goed gegaan het. Sou. . . Ons het nog geen noemenswaardige reën ontvang nie!



DIE BANKROT-WESTEWIND

Vandag was daar hoop. Die wolke het briljant gekom, dis reeds na vyf in die namiddag en die bankrot-westewind wat hom verheug daarin om alle moed uit jou uit te waai het nog nie vir diens aangemeld nie, maar hy het ander gesante wat met hom meewerk. Die wolke het amper hopeloos verdwyn.

Soms gaan dwaal die gemoed in 'n somber boskasie, saam met die koeie op soek na die laaste grashalmpie van hoop, maar dikwels blyk dit niet te vinde te wees en die gemoed wil dan net soos die koeie wanhopig in die stof gaan lê om te herkou aan die droë, stokkerigheid wat hulle met moeite by mekaar kon kry. Hoop blyk maar min te wees.

Maar my gedagtes kies koers na gebeure lank gelede.

En ek dink aan die hervormers; manne met 'n standvastigheid wat vandag nie te kenne is nie. Manne soos Johannes Huss, Calvyn, Zwingli, Wycliffe en die Waldense.

Ek dink daaraan dat hulle lofliedere gesing het en vir hul vervolgers gebid het terwyl die vuurtonge van die brandstapel aan hulle lek en die gesang uitgedoof word deur die geknetter van die vuur om hulle. Ek kan my situasie nie enigsins met dié van hulle vergelyk nie, maar tog, dieselfde entiteit wat daardie manne na die brandstapel gestuur het, steek om ons vuurtjies van wanhoop en ongeloof aan; nie om ons liggame te verbrand nie, maar om ons hoop en geloof in Jesus Christus te verbrand.

Ek sien hoe daardie manne gesing het op die brandstapel en ek weet dat my geestestoestand nie afhanklik hoef te wees van my fisiese omstandighede nie.



DIE GROTER DROOGTE

Die wolke het vandag spierwit gekom, en hulle bring hoop saam, net om teleur te stel en die hoop te laat kwyn; en net so gee menigte instansies, kerke en persone daarbuite voor om suiwer te wees in doktrine en godsdiens, maar op die ou end sal hulle soos die wolke wyk voor die son wanneer Jesus kom om elkeen volgens sy werke te vergeld. Sy heerlikheid sal vir hulle te veel wees net soos die snikhete son die wolke wegbrand.

Dawid het opgekyk na die berge; op die hoogtes was die altare vir menigte valse gode en daar is hulle aanbid. Vandag is hulle tussen ons verbloem, en doen hulself voor as Jesus, die enigste en ware Verlosser. Ek kyk om my heen, my hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

Ek dink aan 'n man in die vroeë kerk, Polycarp van Smyrna. Deur 'n knippie wierook voor die keiser te offer, kon hy die brandstapel vryspring, maar hy het gekies om dit nie te doen nie en met die woorde, "Ses en tagtig jaar het ek Hom gedien en Hy het my geen onreg aangedoen nie, hoe kan ek nou my Here verloën?", is hy na die brandstapel gestuur.

Hoe dikwels offer ons nie 'n knippie wierook voor die keiser of selfs enige gewone mens nie, met die verskoning: "Ag, die Here sal verstaan." Dit is beter om deur 'n mens op 'n brandstapel verbrand te word en uit die tydelike lewe heen te gaan as om God te verloën en so die ewige lewe te verloor. En alhoewel letterlike brandstapels nie hedendaags aangesteek word nie, brand die woorde van letterlike tonge soveel waarheid elke dag tot as.

Ek besef dat 'n goeie laat reën 'n wanhopige situasie kan verander, maar dit is tog maar 'n wankelmoedige hoop en nie 'n gegewe nie, want enigiets kan gebeur.



'n BELANGRIKER BOERDERY

Dan dink ek aan 'n ander boerdery, 'n wingerd wat bewerk moet word. Die wingerd van die ewige God.

Ek het maar twee mense wie vir my werk op die plaas en soms raak ek moedeloos, want mens kom nie oral uit nie en dikwels vermeerder die werk vinniger as wat dit klaargemaak kan word en blyk dit asof dinge nooit so sal wees dat ek kan sê vir nou is die werk klaar nie.

En ek dink aan die oes wat vir die Meester ingesamel moet word. Die oes is groot, maar die arbeiders is min.

Om die werk in die Meester se wingerd klaar te maak en die oes in te samel, is ook reën nodig. Ek is dankbaar om te kan weet dat die reën om hierdie werk van die Here klaar te maak definitief op die regte tyd sal val en dat dit nie 'n wankelmoedige hoop is soos dié op die fisiese reën nie.

En ek wonder, is dit nie tyd om eerder meer aandag te bestee aan die "boerdery" van die Here nie? Die laat reën is tog gewis en al is die arbeiders min, sal die werk klaargemaak word.

Ek is dankbaar om te kan sê: "Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstok geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie - nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil. Die Here is my sterkte, en hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op die hoogste hoogtes."

Want ek weet, al verloor ek alles, het ek sekerheid in die Here, my God.

Kommentaar

Republikein 2024-11-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!