Omaheke-afgevaardigdes kry groen lig
Die Swapo-aansoekers het aangevoer die verkiesingsprosesse is onreëlmatig.
Jacqueline Louw
'n Dringende aansoek van vier Swapo-lede van Omaheke om 27 afgevaardigdes van hul streek uit Swapo se kongres te hou, is Woensdag in die hoërhof in Windhoek van die hand gewys.
Die Swapo-lede mnre. Kejamuina Mungendje, Maleagi Ndisiro, Frans Murangi en Progarius Muriambihu se hofaansoek is Woensdag deur regter Hosea Angula afgewys ná 'n dag van betoë deur regsverteenwoordigers van die betrokke partye.
Dié vier aansoekers het die regerende party, 76 individuele Swapo-lede, die party se raad van oues, vroueraad en jeugliga gedagvaar in 'n poging om gekose afgevaardigdes uit hul streek te verhoed om die Swapo-kongres, wat gister in Windhoek begin het, by te woon.
Die aansoekers het aangevoer die verkiesingsprosesse in die Omahekestreek, waarvolgens 27 afgevaardigdes vir die kongres verkies is, was foutief en die afgevaardigdes se verkiesing was onreëlmatig.
In 'n eedsverklaring wat deur Swapo se sekretaris-generaal, mnr. Nangolo Mbumba, by die hof ingedien is, ontken hy aantygings dat die verkiesingsproses onreëlmatig was.
'erg benadeel'
Mbumba noem in sy beëdigde verklaring dat Mungendje en sy mede-aansoekers posisies in Swapo in die Omahekestreek beklee het, maar dat hulle weens 'n gebrek aan ondersteuning nie tydens konferensies wat in dié streek gehou is, herverkies is nie.
Hy het verder die mening uitgespreek dat die vier hulle eerder tot die party moes wend om hul griewe te lug in plaas daarvan om 'n hofsaak aanhangig te maak.
Mnre. James Diedericks, Gerson Narib en Norman Tjombe, wat vir individuele respondente opgetree het, het aangevoer hul kliënte is slegs een dag gegun om hul beantwoordende beëdigde verklarings voor te berei.
Hulle het gesê hul kliënte is erg benadeel hierdeur en het die hof gevra om die saak van die hand te wys.
Senior advokaat Vas Soni van Suid-Afrika, wat namens die Swapo-party opgetree het, het tydens sy betoog gesê: “Ons praat hier van die verkiesing van 'n president – ons moet nakoming van die wet hê.”
Hy het egter aangevoer die aansoekers het nie die reg om die aansoek te bring nie.
Regter Angula sal die redes vir sy uitspraak op 28 Maart lewer.
Mungendje en die drie ander aansoekers is deur adv. Tuhafeni Muhongo en mnr. Kadhila Amoomo verteenwoordig.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie