Omaruru ken die kuns!

Dié Erongo-dorp se Kunsroete is om die draai.
Des Erasmus
Des Erasmus



Trekkers gaan taxi's word wanneer 'n rewolusie op die gebied van feeste, ekspo's en skoue Namibië van 21 tot 23 September tref met die jaarlikse aanbieding van Omaruru se Kunsroete.

Eers was dit net Omaruru wat sy eie ding gedoen het. Nou het Windhoek, die kusdorpe, kunstenaars en handvaardiges uit die verre Noorde en selfs Suid-Afrika ook bygekom.

'n Lied gaan aan die buitewyke van die dorp verrys waar daar eens met ruwe rotsblokke as skatte van die aarde gewerk is. Die kring gaan ook veel wyer getrek word met kleiner feeste binne die groot fees wat op gewilde aandoenpunte op 'n plaasroete om die dorp aangebied gaan word. Op die terrein van die Omaruru Reiterverein gaan die perd weer runnik, maar dié keer in 'n tentedorp by name Kamp Runnik.

En oral gaan die trekkertaxi's met hul twee sleepwaens elk en hooibale­ vir die sit, ry om feesgangers met die presiesheid van uurwerk in staat te stel om alles te deurleef. Organiseerders van die Kunsroete het met verkeersmanne ooreengekom vir net twee stilhouplekke op die roete deur die dorp. Van die afstappunte gaan die feesgangers net 'n entjie se voetslaan van al die senupunte van die fees op die dorp self kan kom.

Voordag gaan die eerste van drie trekkers van die onderneming Hochland Tractors in Windhoek met reëlmaat van Kashana op die suidoewer van die dorp se groot rivier vertrek en die volle roete ry. Dis deur die dag vir op- en afklim, waar jy wil, so lank as wat jy wil.

Ná die vervoerdiens deur die dorp gaan die trekkerdiens voortkoers na vier gewilde saamtrekpunte buite die dorp – die kaasplaas Zanja, die groenteplaas van die Kolmitze, dan die wynplaas Kristal Kellerei en dan weer die groenteboerdery van ­Waldschmidt met Kashana op die dorp as eindpunt waar alles ook begin het.



BOEREMARK

'n Ondersteunende fees vir die groter fees gaan die Saterdag sommer met die wegtrek op Zanja wees. Vroegdag gaan Omaruru se tradisionele boeremark aangebied word, maar dié keer op die plaas en anders as in die jaar waar dit altyd by die Wronsky Haus gehou word. Dit gaan 'n sessie van vars produkte, kaas en wyn en plekkies van handvaardiges wees, waar George van Straaten van die immergroen orkesgroep Nostalgia die snare statig gaan roer.

Net vir die lekkerte gaan 'n korter toer vir besoekers deur die boer Johan Cornelissen na die polsslag van sy bedryf onderneem word.

By Kolmitz gaan drie meesterkokke hul slag demonstreer vir 'n uiteindelike aansit van 20 feesgangers op 'n slag ná hul demonstrasies. Dis ook die plek waar 'n bak- en brousessie vir die jonger klomp aangebied gaan word. Ook die werk van kunstenaars en handvaardiges gaan daar vertoon word. By die Kristal Kellerei gaan 'n restaurantdiens aangebied word, maar daar gaan ook 'n proesessie wees en 'n kort toer gaan deur die wynland onderneem word. Waldschmidt se groenteboerdery is die laaste aandoenpunt voor die terugtog na Kashana. Dis waar in die Kongo Bar gekuier gaan word. Sjoe!

Saterdagmiddag hier skuins ná vieruur gaan dieselfde roete op die Kafdraf (Hay Ride) gevolg word, elke jaar 'n hoogtepunt van die Kuns­roete. Dié keer gaan dit ses trekkers met twee sleepwaens elkeen en met sitplek vir 'n geskatte 200 feesgangers wees.



KUNSTENAARS

Vrydagaand gaan Kevin Leo van Suid-Afrika die groot trekpleister in die Hans Nel Barn-teater wees. Sy temaliedere is treffers uit gevierde musiekblyspele. 'n Ensemble van ­Swakopmund gaan daar optree en Lize Ehlers van Windhoek gaan as sopraan optree en ook saam met Leo sing. Johan Kelber, 'n maestro op die tjello en verlede jaar 'n kunstenaar saam met Mel Botes op die Kuns­roete, met sy rivierkonsert, gaan weer daar wees.

Die Hans Nel Barn-teater is 'n massiewe plek met meer as 30 swaar vragmotors wat daar onderdak kan staan. Net 'n deel van die groot spasie gaan benut word, waar massiewe rotsblokke eens geberg, gesaag en verwerk was en nou plek vir die karweiers geword het. 'n Unieke klankstelsel is deur 'n Windhoekse instansie daar ingerig. Die Saterdagaand gaan Valiant Swart van Suid-Afrika die groot trekpleister wees.

Op die dorp self gaan daar deurlopende aanbiedinge wees op gebruiklike saamtrekpunte soos die Central Hotel.

Sien jou daar. En wat van die tentedorp Kamp Runnik as daar nog vir 'n lêplekkie gesoek word?

Skakel vir Tinkie Cornelissen by 081 211 5135 en Spannie Spangenberg by 081 332 0807 vir meer besonderhede.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!