Omaruru: Plek van ‘bitter melk’ eintlik heel soet

Karin Eloff
Belinda Jackson

Omaruru in Sentraal-Namibië is een van die land se besbewaarde geheime. Belinda Jackson het gaan ontgin

Sowat 208 km noordwes van Windhoek, bietjie meer as twee ure se ry per motor, lê een van Namibië se versteekte juwele: Omaruru.

Die naam beteken “bitter melk” en is deur die vroeë Herero-veeboere so gedoop omdat die bosse rondom die dorp die beeste se melk glo effens bitter laat proe het.

Eens op ’n tyd Damara-gebied, is die nedersetting deur Herero’s verower en uiteindelik deur Rynse sendelinge in 1868 as die dorpie Omaruru gevestig.

As jy dink dat jy hier net vir een aand gaan oornag, moet jy weer dink. Hier is soveel verrassings versteek dat jy gou sal uitvind een aand is heeltemal te min. Eerder drie tot vier aande is hier nodig.

Inwoners is vriendelik en behulpsaam en verwelkom besoekers graag.

Sweedse en Duitse invloed

Dit is duidelik te bespeur in die argitektuur van veral die kerke en van die industrieë wat hier gedy. Sweedse handelaars het tussen 1850 en 1880 hier handel gedryf, gevolg deur Duitse sendelinge.

Die Omaruru-museum was eens ’n Rynse sendingstasie en huisves vandag foto’s van die vroeë Damaras, Herero’s, sendelinge, antieke meubels en oorspronklike plaasimplemente.

Gastehuise reg langs die ­rivier

Die een is mooier as die ander en bied aangename verblyf langs die (meestal droë) Omarururivier. Van hier af kan jy die dorp en omliggende streke te voet of per motor rustig gaan verken.

“Die breë rivierloop het onlangs sy walle oorstroom na ’n ongewone goeie reënval,” vertel Bianca Damons by die Omaruru-gastehuis, my tuiste vir die aand.

“Jy sal nie glo hoe droog dit hier gelyk het nie. Nou lyk alles mooi en groen, al is daar nou niks water in die rivier sigbaar nie,” sê dié boorling van Oos-Londen wat eintlik ook sendingwerk in Omaruru kom doen het.

Selfs die personeel by die munisipaliteit lyk bly om vreemde gesigte te verwelkom en skroom nie om die sleutels van die museum en die ou Franke-toring – nog ’n herinnering aan die Duitse oorhand oor die Herero-soldate in die laat 1800’s – aan my te oorhandig vir ’n besoek aan dié twee historiese gedenkwaardighede nie.

Kunstenaarsroete in September

Moenie verbaas wees om tot drie kunsinstansies hier raak te loop nie. Sommer met die intrapslag verstom die imposante houtbeelde van Tikoloshe Afrika jou, met die indrukwekkende Kashana-kunssentrum en -restaurant wat vir jou wink op pad na die Franke-toring. Dit is eers wanneer jy met Gerda Jansen van Rensburg, gastehuiseienaar by Ondjamba in die hoofstraat, gesels, dat jy hoor van die kunsskool laer af in die straat en die alomgewilde “Artist trail” wat jaarliks hier in September gehou word.

“Kunstenaars van dwarsoor Namibië en selfs Suid-Afrika kom stal die afgelope 10 jaar hul kuns hier uit tydens die kunsfees, en kunsliefhebbers trek saam van dwarsoor suidelike Afrika om eiesoortige Afrika-kuns vir hul privaat versameling of gastehuise en hotelle bymekaar te maak,” vertel Gerda, ’n nooi van Suid-Afrika.

Sy is na dié dorpie gelok deur haar oorlede ma se jaarlikse motortog uit die Vrystaat na hierdie wêrelddeel in haar getroue ou Anglia-motortjie in die 1960’s.

Skilderye, beeldhouwerk, houtsnywerk, metaalkuns, sandbeelde, juweliersware, fotografie, handgemaakte papier, keramiek, kwiltwerk, kralewerk en literatuur word alles tydens die gewilde fees uitgestal en verkoop.

Tuisgemaakte kaas

Saam met ander vars produkte soos bakbrood, botter en organiese groente, produseer die plaaslike kaasmaker, Tinkie Cornelissen, heerlike tuisgemaakte kaas en ander gebottelde groente en vrugte op haar plaas Zanja net buite Omaruru, wat sy gereeld by die plaaslike slaghuis en apteek aflewer, vertel Gerda. Besoekers aan Omaruru sal van hierdie keurige produkte ook by Tinkie se plaasstal sowat 6 km buite die dorp kan aanskaf en natuurlik ook tydens die jaarlikse kunsfees in September.

Iets vir die soettand

Wil jy nou meer! By Dörgeloh Chocolates langs die poskantoor verbeel jy jou jy’s in Switserland. Hier word die heerlikste likeur-gevulde sjokolade met die hand gemaak.

Sjokolademakers Lovisa Nambahu en Esther Padering sal seker maak jou sjokolade smelt nie sommer gou in die hitte nie deur dit netjies te verpak saam met ’n ysbotteltjie wat hulle in koerantpapier toedraai. Myne het sowaar tot in Swakopmund, 232 km later met die kwik wat tot 46 °C gestyg het, gehou.

Nektar van die woestyngod

En as jy gedink het wingerde kom slegs in die Kaapse wynlande voor, wys Kristall Kellerei jou ’n ding of twee. Dié betreklik klein wynplaas sowat 4 km buite die dorp is ’n lushof van klein wingerde en ’n turksvyboord met die wilde gras wat hoog pronk ná die onlangse goeie reën. “Ons het eers net brandewyn hier gestook, maar die aanhoudende droogte het ons gedwing om eerder op wit colombard en rooiwyn te fokus. Ons maak ook nou ’n vrugteschnapps van turksvy, suurlemoen en sap van die prosopis-boom,” sê Olga Kausch, skakelpersoon by Kristall Kellerei.

Rotstekeninge en prehistoriese trefkrag

By die plaas Otjihaenanamapaero buite die dorp sal jy jou verstom aan twee duidelike stelle dinosourusvoetspore en die rotstekeninge by Paula se grot en Ai Aiba sowat ’n uur se ry van Omaruru.

Nou weet jy ook daar is so ’n plek soos Omaruru. Bespreek jou plek.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!