Omaruru se kaas- en vleispotte stoot vol
Omaruru se kaas- en vleispotte stoot vol

Omaruru se kaas- en vleispotte stoot vol

Des Erasmus
Des Erasmus



Die aanvanklike plan was bloot om Namibië se losse kaasmakersbedryf te orden.

Norme moet neergelê word waaraan die produk getoets kan word.

As dit vir kaas gedoen word, kan die kringetjie 'n bietjie wyer getrek word om terselfdertyd ook die grense van kontreikos af te baken.

Me. Tinkie Cornelissen, van die plaas Zanja net buite Omaruru, self 'n kaasmaker van aansien, het die saadjie geplant.

Vir haar was proekommentaar van “jou kaas is lekker” nie meer genoeg nie. Sy soek 'n uitspraak deur deskundiges. Feitlik onmiddellik het haar plan aanklank by ander kaasmakers van Namibië gevind. Die tafel vir 'n fees was gedek en toe het die bereiders van kontreikos ook hul flessies en kommetjies op die fees­tafels kom plak.

Nou kom die eerste nasionale kaas- en kontreikosfees op 22 en 23 Junie op die einste Zanja, sowat 5 km buite Omaruru.

Duidelike bordjies langs die teerpad tussen Omaruru en Kalkfeld gaan as wegwysers dien. By die aanvanklike plan van beoordeling op 22 Junie en 'n ope dag vir Jan Alleman op Saterdag 23 Junie word gehou. Maar nou gaan alles oorspoel tot by 'n oop boeremark die Saterdagoggend, 'n Schlachtefest, gevolg deur 'n Eisbein-smullery deur die Duitse skool en 'n dansparty die aand van 23 Junie met die gewilde Chicken wat die musiek gaan verskaf.

Cornelissen sê die boeremark kom as aanvullend tot die aanvanklike aanbod van 'n verskeidenheid van kaas- en kon­treikossoorte wat op die ope dag aan­gebied gaan word.

Van die kaassoorte uit Namibië wat ­beoordeel gaan word, is mozzarella-, ­camembert-, blou-, Limburger-, gouda-, cheddar-, emmental-, feta- en haloumikaas. Joan Berning van Plettenbergbaai, een van Suid-Afrika se voorste kaaskenners, sal een van die beoordelaars wees.

Sy onderneem die reis na Omaruru ­spesiaal vir dié geleentheid.

Ander beoordelaars is De Wet Viljoen van Suid-Afrika, Elsabé Marais van Outjo, Dallas Orr, 'n sjef van Swakopmund en David Thomas, 'n sjef van Windhoek.

Onder kontreikossoorte val onder meer patees, vleisdisse en seekos. 'n Derde kategorie onder kontreikos is vir gedroogde geregte soos beskuit, koekies en lekkers.

Oor vleissoorte wat deur sjefs beoordeel gaan word, sê Cornelissen opvallend is die klem wat deelnemers op vleis­produkte plaas wat volgens die tradisionele Duitse metodes voorberei is.

Die deelnemers is verteenwoordigend van die ganse Namibië met die Suide (Aranos), Kamanjab, Otjiwarongo, Seeis, Witvlei, Hochfeld, Kalkfeld, Wilhelmstal en Gobabis wat daar gaan wees.

Cornelissen het self nie geweet Namibië het so baie kaasmakers nie. Tot 10 kan hulle aanmeld om te hoor of hul produkte aan die voorgeskrewe vereistes voldoen. Benewens die 10 is daar nog baie ander kaasmakers wat 'n bietjie onverhoeds betrap was en voornemens het om aanstaande jaar deel te neem.

Ook uit die Suide neem 'n vrou deel met bereide vleis volgens die oorspronklike Duitse metodes. Oor die Schlachtefest het Cornelissen gesê een bewering is dat die Duitse skool 300 Eisbeins vir die ete bestel het. Sy wonder selfs of dit genoeg gaan wees.

Opvallend is ook inskrywings deur Namibië se eie wynmakers, onder wie 'n vrou as hoeweboer in die Swakopvallei. Bierbrouers gaan ook kom toets of hulle die kuns tuis bemeester het.

Sy waarsku wel dat streng by die voor­skrif van 22 Junie (Vrydag) as geslote dag vir beoordeling en Saterdag (23 Junie) as ope dag gehou gaan word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!