Ombudsman besoek De Klerk in SA

’n Wysiging aan die Strafproseswet baan volgens ’n regskenner die weg vir ’n binnekring-getuie in ’n saak soos Fishrot.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die Ombudsman adv. John Walters het die Windhoekse prokureur, mnr. Marén de Klerk, sowat twee weke gelede in Suid-Afrika besoek nadat laasgenoemde aan sy deur kom klop het oor die skending van sy fundamentele menseregte.

Walters het gister bevestig De Klerk is bekommerd dat hy, nadat sy beëdigde verklaring in Januarie aan die media gelek is, nie ’n regverdige verhoor sal hê indien hy ingevolge die Fishrot-ondersoek vervolg sou word nie.

“Hy het my genader en gesê sy fundamentele reg op ’n regverdige verhoor is aangetas nou dat almal weet wat in sy verklaring staan,” sê Walters.

Volgens hom het De Klerk opnuut laat blyk hy vrees vir sy lewe en wil ook niks op skrif sit nie, aangesien hy bang is dat wat ook al hy met Walters op skrif deel, weer eens kan uitlek.

“Ek reis gereeld om mense te besoek wat voel hulle regte word geskend, en daarom het ek na hom toe gereis,” sê Walters oor sy besoek van 3 tot 5 Februarie aan Suid-Afrika.

“Ek het vir hom gesê ek kan nie met die regsproses inmeng nie en net die hof het die magte om hom ingevolge artikel 25 van die Grondwet ter beskerm.”

De Klerk verduidelik in sy verklaring die wyse waarop viskwotageld vanaf die Yslandse vismaatskappy Samherji deur sy regsfirma se trustrekening, en dié ’n maatskappy Celax Investments Number One waarvan hy beheer gehad het, na sekere Fishrot-beskuldigdes en Swapo-begunstigdes gevloei het.

Sy verklaring is verlede jaar aan die Teenkorrupsie-kommissie (ACC) voorgelê. Hoe en deur wie dit verlede maand aan die media gelek is, word nog deur die ACC ondersoek.

PLEITOOREENKOMSTE

Intussen sê die regskenner en -ontleder, prof. Nico Horn, die voorgestelde wysiging aan die Strafproseswet om pleit- en vonnisonderhandelinge en -ooreenkomste met ’n beskuldigde aan te gaan, dek die tafel “om in ’n verhoor soos byvoorbeel die Fishrot-saak, iemand uit die binnekring ’n staatsgetuie te maak”.

Die minister van justisie, me. Yvonne Dauseb, het Woensdag dié wysiging aan die Strafproseswet in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê.

’n Ingeligte bron na aan die ondersoek het by navraag gesê as die wysiging betyds deur die twee huise van die parlement aanvaar word, "kan dit onderhandelinge met ’n staatsgetuie in die Fishrot-verhoor vergemaklik".

Horn, wat vir sy mening hieroor genader is, sê dit maak dit inderdaad moontlik om iemand “uit die binnekring” ’n staatsgetuie te maak.

“Ooreenkomste tussen beskuldigdes en die hof is ’n ou gebruik, maar in die verlede was dit hof wat so besluit moes neem. Die beskuldigde en sy prokureur nader die aanklaer met ’n voorstel en die aanklaer lê dit aan die hof vroeër om op grond daarvan ’n bevinding te maak.

“Die wysiging sal egter vir aanklaers meer magte gee. As hulle besluit dit is ‘n redelike aanbod waarmee die beskuldigde en sy prokureur vorendag kom, kan hulle self die pleitooreenkoms aanvaar en hulle hoef dit nie na die landdros of regter te neem om dit ’n bevel van die hof te maak nie.”

Horn verduidelik verder dat selfs al het aanklaers hierdeur ’n “carte blanche”, is daar genoeg wigte en teenwigte aangesien hulle steeds onder die gesag van die beheeraanklaer en uiteindelik die aanklaer-generaal staan.

Dit behoort kommer oor ’n gebrek aan kennis by onervare aanklaer, asook ’n moontlike gebrek aan integriteit, te ondervang, meen Horn.

Volgens hom sal hierdie wysiging ook die druk op die howe verlig.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer