Ombudsman gevra om uraansoektog te ondersoek
Ellanie Smit
Die Namibië Landbou-unie (NLU) het onlangs ‘n hoflikheidsbesoek aan die nuwe ombudsman, mnr. Basilius Dyakugha, gebring om sy kantoor op hoogte te bring van die unie se langtermyndoelwit en fokusse.
Verskeie kwessies is tydens die ontmoeting bespreek, waaronder die uraaneksplorasie en -boorwerk in die Stampriet artesiese kom.
Volgens die NLU streef hulle daarna om met gesamentlike oplossings vorendag te kom vir die komplekse uitdagings wat die land in die gesig staar – met die fokus op kapasiteitsbou wat leierskap, die ontwikkeling van lewensvaardighede en die bemagtiging van plaaswerkers insluit.
Ander fokusareas is die skep van sinergie tussen alle belanghebbendes in die landbousektor, die verwesenliking van die winsgewendheid van primêre landbouproduksie en die volhoubare benutting van hulpbronne soos weiding en water.
Die NLU sê spesifieke kwessies wat tydens die vergadering beklemtoon en bespreek is, is dat die Landbouwerkgewersvereniging (LWV) steun rakende spesiale arbeidsverwante kwessies aan die kantoor van die ombudsman gebied het.
Nog ’n punt wat bespreek is, was die gebrek aan dienslewering deur openbare instellings, wat dit uiters uitdagend maak vir die landbousektor om doeltreffend te funksioneer.
“Sekere owerhede in die regering, wat verantwoordelik is daarvoor om die implementering van regulasies te beheer, is blykbaar nie voldoende bekwaam vir doeltreffende dienslewering nie,” het dié landbouliggaam gesê.
Volgens die NLU is die beskerming van Namibië se omgewing nog ‘n kritieke mandaat van die kantoor van die ombudsman.
WATERBESOEDELING
“Die boor van honderde (indien nie duisende nie) boorgate vir uraaneksplorasie in die Stampriet-waterbeheerde gebied is ‘n groot bekommernis. Die risiko van in situ-uitloging van radioaktiewe uraan in die akwifer en die potensiële besoedeling van duisende Namibiërs se drinkwater, is onmeetbaar.”
Die NLU sê ’n dringende beroep is op die ombudsman gedoen om hierdie ernstige kwessie ter wille van die oorlewing van toekomstige geslagte te ondersoek.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie