Ombudsman wil Katima help
Ombudsman wil Katima help

Ombudsman wil Katima help

'n Poging gaan aangewend word om skadevergoeding namens daklose gesinne te eis.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die ombudsman het gesê sy kantoor sal inwoners van Katima Mulilo, wie se tuistes deur die dorpsraad gesloop is, help om vergoedingseise in te stel vir die skade wat hulle onlangs gely het.

“Hulle kan 'n saak maak weens die skade wat hulle gely het. Ek het reeds 'n regsverteenwoordiger gevra om na die saak te kyk en te sien of die moontl­ikheid bestaan om regsaksie in te stel,” het mnr. John Walters gesê.

Hy sê dié inwoners sou nooit na hul tuistes kon terugkeer nie, aangesien hulle onwettig daar gebly het.

Katima Mulilo se dorpsraad het laat in September met die sloping van huise begin wat onwettig gebou is op grond wat aan die raad behoort.

Vroeg in Oktober het die ombudsman se kantoor 'n span gestuur om die situasie op voetsoolvlak te bekyk.

Hoewel die presiese getal huise wat gesloop is nie bepaal kon word nie, word geskat meer as 'n duisend mense is geraak.

Die span het beëdigde verklarings ingesamel en vasgestel die raad het vooraf geen hofbevel vir die slopings verkry nie.

Hulle sou ook met mnr. Raphael Liswaniso, uitvoerende hoof van die dorpsraad, vergader.

'n Afspraak is hiervoor gereël, maar Walters sê Liswaniso was glo vir twee weke met verlof toe die span by sy kantoor opdaag.

Die ombudsman se kantoor het ook aan me. Sophia Shaningwa, die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, geskryf en versoek dat die slopings gestaak word. Dit het toe wel op 9 Oktober gebeur, maar daklose gesinne het steeds geen hulp ontvang nie.

“Tot nou toe het van hulle nie 'n dak oor hul koppe nie. Hulle kry geen hulp nie en van die kinders gaan nie eers skool toe as gevolg van die ontwrigting waardeur hulle is nie,” het Walters gesê.

Daar is ook geen sprake van die terugbesorging van besittings wat deur die dorpsraad gekonfiskeer is nie.

Die ombudsman het Liswaniso se omstrede uitlating veroordeel dat stedelike grond nie vir armes bedoel is nie.

Hy sê nie net die dorpsraad nie, maar ook die regering het 'n regsplig om die land se mense van bekostigbare behuising te voorsien.

Walters sê dit is ontstellend dat Katima se dorpsraad mense toegelaat het om steenhuise te bou en dié huise dan te sloop.

Hy sê verstedeliking is 'n kwessie vir baie dorpe in Namibië, maar nêrens word grond uitgesonder vir nuwe inwoners se tydelike verblyf nie.

Namibië se plaaslike regering en ook die nasionale regering misluk daarin om inwoners van die land se menseregte te beskerm, sê hy.

“Ná ons aaklige verlede is mense se menswaardigheid só afgetakel, dit kan slegs herstel word deur toegang tot bekostigbare behuising. Die dorpsrade sit met 'n bom op hul voorstoepe wat gaan ontplof. Ek dink nie die munisipaliteite is ernstig hieroor nie,” het die ombudsman gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!