Omeya onder die hamer
Omeya onder die hamer

Omeya onder die hamer

Heffings wat van huiseienaars verhaal word, veroorsaak onmin terwyl banke hul beleggings probeer herwin.
Augetto Graig
Augetto Graig – Aucor Namibia bied vandag ’n veiling van 90 lotte vir verskeie erwe, huise en kommersiële eiendom by die Omeya-ontwikkeling buite Windhoek aan.

Volgens die afslaer se webwerf word die veiling in opdrag van Omeya se nuwe bestuur gehou.

Intussen is ’n sosialemediaveldtog van stapel gestuur deur iemand bekend as “Sê jou sê Omeya” waar hulle mense probeer afskrik om nie te belê in die droomlewe wat deur die luukse gholflandgoed-ontwikkeling belowe word nie.

“Welkom by ‘veilingsweek’, waar jy met die koop van eiendom in Omeya gewaarborg is om 'n ander man se skuld vir die res van jou lewe af te betaal!” is Maandag op dié blad gesê.

Die onmin spruit uit ’n tydelike hofskikking wat toegepas was nadat die Omeya-huiseienaarsvereniging (Ohoa) verlede jaar die howe genader het om die onderneming te likwideer en die grootste skuldeiser, Bank Windhoek, ingetree het om die likwidasie te keer.

Dit volg alles nadat ’n komplekse verdeling van verantwoordelikhede en ’n reeks troebel binneooreenkomste kwesbaar gemaak is deur die ineenstorting van die huismark.

Bank Windhoek en Omeya se ontwikkelaar het toe ’n tydelike skikkingooreenkoms bereik om laasgenoemde onder geregtelike bestuur te plaas, eerder as om te likwideer.

Die ontwikkelaarsmaatskappy is Omeya Gholf- en Residensiële Oase (Ogro) en Bank Windhoek het intussen beheer hiervan geneem deur nuwe direkteure aan te stel.

Ogro was toe reeds in die rooi by twee van sy grootste skuldeisers, naamlik Bank Windhoek en FNB Namibia, aan wie dit onderskeidelik sowat N$133 miljoen en N$12 miljoen skuld.

Bank Windhoek het vroeër alle vrae aan mnr. Daniel Terblanche as direkteur van Omeya verwys. Terblanche het Republikein laat weet die vorige Ohoa-raad is deur die voorlopige geregtelike bestuurder aangestel, en is op 6 Oktober vervang. Terblanche is een van vier Suid-Afrikaners wat nou op dié raad dien.

Hy dring aan raadslede hoef nie huiseienaars te wees nie, en dat een huiseienaar steeds op die raad dien. Dieselfde individue dien tans op beide Ogro en Ohoa se rade, het hy bevestig.

Vorige vrae oor die wettigheid van die bestuursooreenkoms wat van toepassing is op Omeya, het Terblanche ook van die hand gewys. Hy sê regsadvies dui aan die ooreenkoms is geldig.

Hy het ook Bank Windhoek se reddingsplan vir Omeya met Republikein gedeel. Dit is die instelling van heffings aan huiseienaars in die plan wat ongelukkigheid onder huiseienaars veroorsaak, volgens sosialemediaplasings.

Volgens “Sê jou sê Omeya” is heffings tans sowat N$4 500 per maand, en hulle voorspel heffings kan met N$2 000 styg om vorige skuld af te betaal.

Sommige huiseienaars het glo intussen hul rekeninge by Bank Windhoek gesluit, volgens sosialemediaplasings.

Terblanche sê die Namibië Infrastruktuur Ontwikkelingsfonds (NIF) van die regering se pensioenfonds (GIPF) is gewillig om ’n bykomende N$65 miljoen op Omeya te spandeer benewens die vorige belegging van N$38 miljoen waarvoor NIF 49% van die Omeya Infrastructure Company (OIC) verkry het.

Die OIC het ontstaan uit die bestuursooreenkoms tussen Ohoa en Ogro en die plan is dat die NIF die maatskappy in geheel oorneem.

Hy sê die OIC lewer dienste aan huiseienaars en is verantwoordelik vir die onderhoud van infrastruktuur.

“Ohoa het ’n diensteooreenkoms met die NIF wat dienslewering en verwante koste reguleer. Die NIF vra Ohoa om vir dienste wat verskaf is, te betaal. Die Ohoa stuur fakture uit en samel heffings van huiseienaars in om die NIF se fakture te betaal,” brei hy uit.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!