Omeya-storm woed voort
Omeya-storm woed voort

Omeya-storm woed voort

Die verwagting was dat die gemoedere nog nie teen gisteraand se opvolgvergadering op ’n gholflandgoed buite Windhoek sou bedaar nie.
Denver Kisting
Denver Kisting – Beeldmateriaal wat sedert eergisteraand wyd in die sosiale media gedeel is, wys hoe ’n groep mense Maandagaand op Omeya slaags geraak het.

Dié geveg op die ghoflandgoed sowat 40 km suid van Windhoek het glo ontstaan “toe een van die huiseienaars die wagte uit die pad gekry het sodat ons almal kon ingaan!” vertel ’n ontstoke huiseienaar gister via WhatsApp.

Republikein verneem veiligheidswagte het sommige huiseienaars – kwansuis dié wie se rekeninge agterstallig is – probeer verhoed om die vergadering by te woon.

Oor die skermutseling sê ’n ander inwoner: “Dit was so vinnig oor. Arme sekuriteit het sommer onmiddellik geloop.”

Dié opdrag is glo deur mnr. André van der Walt, die ontwikkelaar, gegee.

Van der Walt het Maandag by navraag gesê hy is besorg oor sy veiligheid, omdat van die huiseienaars glo vroeër vyandig jeens hom opgetree het.

Derhalwe het hy aanvullende veiligheidswagte by eergisteraand se verrigtinge laat ontplooi.

Van die huiseienaars voer aan die bewering van ’n vyandige gesindheid teenoor die ontwikkelaar is bog.

“Ons is nie hooligans nie,” skryf dié inwoner die afgelope week op Facebook.

Die geraakte eienaars was nie Maadagaand daarvoor te vinde om nie toegelaat te word om saam te vergader nie.

Hulle het hul weg binnetoe baklei, toon die video van 42 sekondes lank.

Volgens ’n ander inwoner het hulle Van der Walt se plan om hulle te verbied om te stem weens beweerde agterstallige rekeninge probeer uitdaag toe hulle uiteindelik daarin geslaag het om wel toegang tot die vergadering te kry.

Hulle moes eergisteraand egter onverrigter sake huis toe terugkeer.

“Ons het dit probeer uitdaag, maar (dit het) op dowe ore (geval).”

Drie direkteure het uiteindelik voor eergisteraand se vergadering die tuig neergelê.

Een van hulle, mnr. Alex Klein, het eergister gesê hy wou nie bedank nie, maar Van der Walt wou hom nie daar hê nie.

Hy het gister gesê hy wil liefs nie verder kommentaar lewer nie.

“Ek is mos nie meer ’n direkteur nie.”

Die verwydering van direkteure was een van eergisteraand se agendapunte waaroor inwoners moes stem.

Van der Walt is onder skoot omdat hy inwoners se stemreg glo ingeperk het en syne uitgebrei het.

“Die ontwikkelaar het sy ‘reg’ om sake te beheer, beoefen en ons pak gegee.”

’n Totaal van 290 mense het na wat verneem word teen die verwydering van direkteure gestem, terwyl 66 ten gunste daarvan was.

“Drie direkteure het voor die tyd bedank omdat hulle dan nie weer in ’n raad mag dien nie (indien hulle verwyder sou word). Een het gebly en ondanks ons meerderheidstem het ons steeds pak gekry.”

Van der Walt het glo volle beheer oor die landgoed geneem – ’n wending wat volgens ’n ander inwoner op ’n moderne tronk neerkom.

Dit help nie om elders te gaan probeer woon nie, sê dié inwoner.

“Wie sal nou jou huis koop?”

Een van die grootste dorings in sommige inwoners se vlees, hou verband met Van der Walt wat hulle sedert verlede jaar vir waterverbruik begin aanslaan.

Dit is volgens hulle teenstrydig met die ooreenkoms wat hulle met die landgoed se base het.

Oproepe na Van der Walt het gister onbeantwoord gebly.

Pogings om kommentaar via SMS en WhatsApp te kry, het eweneens geen vrugte afgewerp nie.

Maandag was hy van mening dit is ’n private aangeleentheid waaroor hy nie kommentaar mag lewer nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!