Omgeeprojek verhelder Paasfees
Omgeeprojek verhelder Paasfees

Omgeeprojek verhelder Paasfees

Die Care For The Needy-projek het ekstra hande nodig om van hul Paasnaweek-uitreik ’n sukses te maak.
Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt op Swakopmund

Vir baie Namibiërs bied die komende Paasnaweek tyd om saam met familie deur te bring en ’n Paasete saam te geniet.

Daar is egter ook baie mense wat nie dié voorreg sal hê nie.

Die Care For The Needy-projek wil hand bysit en die Paasnaweek vir minderbevoorregtes ophelder.

Mee. Sushmita Khachas en Melissa Geinus het in 2019 die projek begin toe hulle as vrywilligers by Anne’s Angels-sopkombuis uitgehelp het.

“Ons het net gevoel ons moet aan ons gemeenskap teruggee,” het Khachas gesê.

Hoewel die projek se vorige uitreike na die sopkombuis ongeveer 50 kinders gelok het, glo Khachas daar sal hierdie keer ongeveer 150 kinders opdaag.

“Dus is daar dringend vrywilligers nodig om al 150 kinders te voed. Behalwe vir die kosmaak, gaan ons ook klere en geskenkpakkies vir die kinders uitdeel,” het sy bygevoeg.

Die Care For The Needy-projek vra ook van die publiek om tweedehandse klere of speelgoed te skenk.

Volgens Khachas het haar liefde vir liefdadigheid by haar ma begin.

“Ek is eintlik maar net so grootgemaak. My ma het my geleer jy moet gee wat jy kan.”

Khachas is vas oortuig dat sy deur liefdadigheidswerk kinders kan help uit ’n situasie waarin sy haarself as jong meisie bevind het.

“Ek het ook in Mondesa grootgeword, so ek weet wat dit is en ek weet baie van hierdie kinders lewe saam met ouers wat alkoholiste is of ouers wat hulle afskeep. As ek net ’n klein verskil kan maak, is dit reg met my.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer