Omnia spring 18% nu00e1 gesprekke oor skuld
Omnia spring 18% nu00e1 gesprekke oor skuld

Omnia spring 18% ná gesprekke oor skuld

Nellie Brand-Jonker

Die kunsmis- en plofstofgroep Omnia se aandeelprys het Dinsdag met 18% gespring nadat hy aandeelhouers ingelig het sy finansierders het ingestem tot die herstrukturering van sy skuld.

Beleggers is verwys na sy handelsoorsig van 20 Maart. In die handelsoorsig word getoon ’n verlies word vir die boekjaar tot einde Maart verwag weens swak marktoestande en die styging in finansieringskoste.

Omnia het daarna met sy finansierders in gesprek getree.

“Die gesprekke was daarop gerig om die bestaande skuld te herstruktureer om die groep se voortbestaan op lang termyn te verseker. Al die finansierders het ingestem om saam met die groep die pad te stap en om dit te oorweeg om die skuldstruktuur te hersien.”

Die groep verwag om teen 25 Junie, wanneer sy resultate uitgereik word, meer inligting aan sy aandeelhouers te kan gee oor wat die plan behels.

Volgens Omnia is dit nie tans nodig om ’n onbeplande terugbetaling te doen of om die groep te herkapitaliseer nie.

In sy handelsoorsig van Maart is gesê ’n verlies van minstens R134 miljoen word verwag.

TWEE VERKRYGINGS

Daar is aangedui hoewel Omnia in die verlede oor die algemeen min skuld gehad het, dit in die 2018-boekjaar skerp toegeneem het omdat twee verkrygings gemaak is.

Aan die einde van die 2017-boekjaar het die groep netto kontant van R91 miljoen gehad. Daarteenoor het die groep die 2018-boekjaar met netto skuld van R2,7 miljard afgesluit.

Die rente wat op sy skuld betaal word, het van R185 miljoen tot R273 miljoen tussen die twee finansiële jare gespring.

Die rente vir die 2019-boekjaar het dienooreenkomstig gestyg, het Omnia in sy handelsoorsig gesê.

Die verkryging van Umongo Petroleum en Oro Agri het onderskeidelik R625 miljoen en R1,2 miljard gekos.

Boonop is daar met die konstruksie van die eerste fase van Omnia se nuwe stikstof-fosfaat-aanleg begin, wat R670 miljoen sal kos.

Die maatskappy het ook talle eenmalige items in die boekjaar gehad, soos die verdere afskrywing van R44 miljoen van ’n “problematiese skuldenaar” in Angola.

Nog ’n eenmalige koste was die transaksie- of adviesgeld van R28 miljoen wat betaal is vir die verkryging van Oro Agri. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer