Omstrede Lebanese sakeman dagvaar spa
Omstrede Lebanese sakeman dagvaar spa

Omstrede Lebanese sakeman dagvaar spa

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Die Libanese sakeman mnr. Fadi Ayoub dagvaar ‘n bekende Windhoekse spa en sy bestuurder vir skadevergoeding van honderde duisende ná ‘n voorval wat hom “verneder en verkleineer” gelaat het.

Die verweerders in die saak is Soulstice Day Spa cc. en die spabestuurder, me. Natalie Wieman.

Volgens hofstukke was Ayoub ‘n gereelde kliënt van die spa.

In ‘n verklaring sê hy ‘n argument het op 19 of 20 Augustus verlede jaar tussen hom en Wieman ontstaan toe hy gekla het oor die manier waarop een van die spa se werknemers hom aangespreek het.

Wieman het gevolglik sekuriteitsbeamptes op die perseel se hulp ingeroep en Ayoub glo daarvan beskuldig dat hy ‘n vuurwapen by hom het. Dit het tot ‘n “groot oproer” gelei, waarna hy en sy motor deursoek is.

Ayoub sê voorts in hofstukke die Namibiese polisie se hulp is ingeroep weens Wieman se aantygings dat hy ‘n vuurwapen op die perseel het.

“Die voorval het ten aanskoue van ander lede van die spa en die publiek plaasgevind, en het onder mense naby aan die eiser en ander versprei,” lui hofstukke.

Volgens hofstukke ontken Wieman sy het sekuriteitsbeamptes na die perseel ontbied omdat Ayoub glo ‘n vuurwapen by hom gehad het.

Ook sê sy sy het hom nie daarvan beskuldig dat hy ‘n vuurwapen by hom het nie. Volgens haar het me. Marizanne Bussel beweer sy het gehoor hoe Ayoub ‘n vuurwapen oorhaal.

Enige oproer wat deur die voorval veroorsaak is, is volgens Wieman en Soulstice Day Spa cc deur Ayoub se eie optrede veroorsaak.

Voorts sê Wieman was dit Ayoub wat sy vriende, prokureurs en die nasionale uitsaaier (NBC) in haar teenwoordigheid tydens die beweerde voorval na die spa ontbied het.

“Enige beweerde publikasie en verspreiding van bewerings oor die beweerde voorval het weens die eiser se eie optrede plaasgevind,” lui die verklaring.

Soulstice Day Spa cc vra die saak moet met koste van die hand gewys word.

Ayoub is in omstredenheid gehul ná hy in 2012 aan Frankryk uitgelewer is om strafregtelike klagte in die gesig te staar, wat toe meer as 20 jaar oud was.

Hy is op 6 Desember 2013 onskuldig bevind op klagte van verkragting en ontvoering, ná hy sewe maande in die tronk in Namibië, gevolg deur ‘n jaar en twee maande in ‘n tronk in Frankryk, deurgebring het.

Hy het in 2014 na Namibië teruggekeer.

Die saak is tot 16 April vir voorverhoorverrigtinge uitgestel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!