Omstredenheid omhul Zim-‘skenking’

Die Covid-19-toetsstelle, wat die Zimbabwiese kabinet in April gesê het Namibië aan Zimbabwe geskenk het, is verder in raaisel omhul.
Jemima Beukes
Jemima Beukes – Jaji Investments, ’n dopmaatskappy wat in Namibië geregistreer is, het ’n bohaai in Zimbabwe ontketen ná dit aan die lig gekom het die maatskappy het N$1,1 miljoen (US$66 375) vir 4 500 vinnige toetsstelle ingevorder. Namibië het klaarblyklik die toetsstelle aan Zimbabwe geskenk.

Jaji Investments is in 2015 in Namibië geregistreer en behoort aan ’n Zimbabwiese dokter, dr. Prince Mushininga, wat in Windhoek bly en glo ’n noue verbinding met die Zimbabwiese president, pres. Emerson Mnangagwa, het.

’n Zimbabwiese kabinetsverklaring van 21 April vanjaar, en wat die kabinet aan die media verskaf het, beweer Namibië het die toetsstelle aan sy buurland geskenk.

Die Zimbabwiese kabinet het gesê die toetstelle sou na verskeie streke versprei word.

’n Geleibrief van DHL wys die maatskappy het slegs N$5 000 (US$300) vir die 4 500 toetstelle betaal, wat in Maart vanaf Beijing verskeep is. ’n DHL-faktuur gedateer 26 Maart 2020 stem ook met die bedrag ooreen.

Ten spyte dat die maatskappy ’n inkomste uit transaksies met die Zimbabwiese regering verdien, wat tans ondersoek word, beweer Jaji Investments die maatskappy is nie funksioneel nie en het belasting op toegevoegde waarde (BTW)-vrye (zero-rated) belastingsertifikate in Namibië ingedien.

Dokumente

Dokumente wat op 16 Maart 2020 gestempel is, wys die Zimbabwiese gesondheidsministerie het ’n betaling deur Standard Bank Namibia ten bedrae van US$66 375 aan Jaji Investments gemaak.

Nietemin sê bankamptenare die forex-rekening is in Maart vanjaar toegemaak. Dokumente wys ook dat die Zimbabwiese gesondheidsministerie op 15 April 2020 ’n faktuur vir die toetsstelle aan dié land se finansministerie gestuur het, vir uitbetaling.

In dieselfde maand kondig die Zimbabwiese kabinet aan Namibië het 4 499 vinnige toetsstelle geskenk. Die Namibiese owerhede dring steeds aan hulle het nooit enige toetsstelle aan Zimbabwe geskenk nie.

‘Verwerk die ooreenkoms’

Gedurende dié tyd het die Zimbabwiese minister van inligting, me. Monica Mutsvangwa, aan Republikein se susterkoerant, Namibian Sun, bevestig dat Zimbabwe die vinnige toetsstelle van Namibië ontvang het.

Mutsvangwa wou egter nie oor die skenking uitbrei nie en het die koerant na Zimbabwe se gesondheidsminister, mnr. Obediah Moyo, verwys. Moyo het nie op oproepe of WhatsApp-boodskappe gereageer nie, maar ’n handgeskrewe nota dui aan hy het sy personeel instruksies gegee om met die transaksie voort te gaan.

“Finansies is reg om dit vir ons te koop,” is op die nota geskryf.

Hierdie toetstelle is plaaslik van China beskikbaar en word ook in Namibië gebruik.

Waarskuwing

Die registrateur van medisyne in Namibië het op 8 April vanjaar ’n waarskuwing uitgereik aan private individue wat vinnige toetsstelle verkoop, en moedig die publiek aan om die individue aan te meld.

“Dit is verbode om toetsstelle aan ’n individue of aan die publiek te verkoop of te voorsien, met die voorstelling dat die persoon homself vir Covid-19 kan toets,” het hy gesê.

Net foute

Mushininga sê die US$300, wat op die DHL-geleibrief verskyn, is foutief.

“Die lugvrag-geleibrief word deur die vervaardiger verskaf, in die geval die Chinese maatskappy, wanneer die voorraad verskeep word. Ek het nie agtergekom hulle het die bedrag verander nie, maar ek kan dink hulle doen dit om minder vir verskeping te betaal,” sê hy.

“Nogtans kan ek jou verseker ek het nie die 4 500 toetsstelle vir US$300 gekoop nie. Ek wens dit was so! Daardie geld sou nie eens die koste van verskeping van al die toetsstelle na Zimbabwe dek nie,” sê hy.

Geen belang van jou nie

Mushininga het verduidelik dat hy die maatskappy finansier, wat sedert 2015 geen inkomste verdien nie. Hy finansier die maatskappy uit sy spaargeld en wins uit ander ooreenkomste en transaksies.

“Hoe ek my maatskappy finansier het niks met jou te doen nie. Ek sal ook nie my kommersiële winsgrense, byvoorbeeld winste of hoeveel ek eintlik aan die Chinese verskaffer betaal het, bespreek nie. Dit is sensitiewe inligting wat hulle kan benadeel, omdat hulle mededingers dit kan gebruik. Nogtans vertrou ek jy verstaan die basiese beginsel van handel; jy koop iets en verkoop dit weer teen ’n hoër prys, en solank die koper tot die prys instem, is almal gelukkig. In ’n kontrak met die regering moet jy altyd mededingende pryse aanbied, omdat jou mededingers ook probeer om die kontrak te kry,” sê hy.

Nie my rekenmester

Mushininga dring aan die transaksie is volgens die wet gedoen en sê dat Zimbabwe gedurende die Covid-19-pandemie uit belastingkortings baat.

“Jy is nie my rekenmeester nie, so ek sal geen dokumente aan jou gee nie,” het hy gesê.

Die woordvoerder van die Namibiese finansministerie, mnr. Tonateni Shidhudu het bevestig die maatskappy is as belastingbetaler in Namibië geregistreer, maar het geweier om verdere inligting te verskaf. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!