Omstredenheid oor Baynes-hidrokragstasie
Omstredenheid oor Baynes-hidrokragstasie

Omstredenheid oor Baynes-hidrokragstasie

Burgerregte organisasies meen die Himba-mense is nie in planne vir die bou van die ­hidro-kragopwekkingsprojek geken nie.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Die bou van die oorgrens Baynes-­hidrokragstasie op die laerliggende gebiede van die Kunene­rivier is opnuut in omstredenheid gedompel.

Dit nadat burgerregte ­organisasies International Rivers en Earthlife Namibia meen die ooreenkoms is aangegaan sonder om die Himba- en Zemba-mense in die saak te ken. Die groepe kan deur die projek ontwortel word.

Die organisasies beweer 'n bilate­rale ooreenkoms vir die projek is vroeër vandeesmaand deur die regerings van Namibië en Angola onderteken en konstruksiewerk sal na verwagting reeds in 2021 begin.

Die aanleg sal na verwagting 600 MW se elektrisiteit opwek, wat gelykop tussen Namibië en Angola verdeel sal word, terwyl daar ook planne vir die verskaffing van elektrisiteit in die streek is.

Terselfdertyd sê die organisasies 'n publieke, onlangse tegniese verslag is nie beskikbaar oor die omgewings- en maatskaplike impak van die projek nie, terwyl dit ook nie duidelik is hoe die US$1,2 miljard vir die projek ­gefinansier sal word nie en volgens die organisasies in “geheimhouding gehul is”.



PJTC REAGEER

In 'n reaksie hierop het die Permanente Gesamentlike Tegniese Kommissie oor die ­Kunenerivier-bekken (PJTC) se medevoorsitter, mnr. Simeon Negumbo, aan die media gesê die eerste twee fases van die ­regskonsultasie is reeds afgehandel.

Negumbo is ook die ministerie van myne se uitvoerende direkteur.

Hy sê dit het gevolg op 'n ooreenkoms wat reeds in 2007 tussen die ­regerings van dié twee lande bereik is om haal­baarheidstudies vir die projek te doen.

Negumbo sê fase drie van die projek, wat handel oor die institusionele opstelling van die projek, sal na verwagting teen Mei vanjaar voltooi wees.

“Die Baynes-verdrag behoort ook teen die einde van die jaar afgehandel te word.

“Bouwerk sal moontlik in 2023 begin, afhangende van faktore soos die opdatering van die omgewings- en tegniese-ekonomiese data, die bou van 'n pad na die perseel, asook finansiële afsluiting vir die projek.

“Die opdrag vir die bou van die hidro-­elektrisiteitsaanleg sal dalk eers teen einde 2028 of vroeg 2029 gegee word,” het Negumbo gesê.

Negumbo meen die hidro-dam kan binne vyf jaar gebou word.

Hy sê die skatting dat die projek 'n belegging van US$1,2 miljard sal vereis, is gebaseer op 'n tegniese-­ekonomiese studie van 2014.

Hy meen die nuwe studie, waarin die jongste tegnologie oorweeg word, kan dalk neerkom op 'n vermindering van dié bedrag.



OMSTREDENHEID

International Rivers en Earthlife Namibia sê uit gesprekke in ­Januarie met die Himba-mense was dit duide­lik hulle is nie geken of ­betrokke gewees in die besluitneming van die projek nie en is bekommerd die manier hoe hulle leef, mag bedreig word.

Verder word gesê die ­Himba-mense het reeds vorige hidro-kragprojekte soos die Epupadam suksesvol teen­gestaan. Die versuiming om ­inheemse gemeenskappe te raadpleeg is 'n ­oortreding van die beginsel van vrye, voorafgaande en ingeligte toestemming waartoe inheemse bevolkings 'n reg het.

Dit word deur die Verenigde Nasies erken.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer