Onafhanklikheids-tjokker terug vir wittebrood

Tanja Bause
Tanja Bause - Die dag toe Namibië onafhanklik geword het, het skares opgewonde mense ’n optog deur Onafhanklikheidsrylaan gehou.

Onder hulle was die driejarige Gemma Preacock en haar gesin.

’n Foto van klein Gemma langs Given Bassingthwaighte is later in die boek Namibia Mirror en op plakkate gebruik.

Gemma woon vandag in Engeland, maar is tans met besoek aan Namibië.

“My gesin het in dieselfde jaar wat Namibië onafhanklik geword het, terug Engeland toe getrek. My pa was in Namibië om mense opleiding te gee en aan die einde van die jaar het sy kontrak verstryk en is ons terug. My suster Leah is in Namibië gebore. Ek was nege maande oud toe my ouers vir drie jaar Namibië toe gekom het,” sê sy.

“Vriende van my ouers het die plakkate van my gesien en hulle daarvan vertel. Hulle het ook later die boek vir my ouers gestuur. My ouers haal gereeld die boek uit en blaai daardeur, en elke keer wonder ons as gesin wat van die seun geword het.”

Gemma het in Augustus met Aiden O’Leary in die huwelik getree en hulle bring hul wittebrood in Suid-Afrika, Zimbabwe en Mauritius, en tans ook in Namibië deur.

Dit was die eerste keer sedert die gesin terug Engeland toe is dat ’n lid van die gesin Namibië weer besoek het.

“Haar ouers verlang baie terug na Namibië, en toe hulle hoor ons beplan ons wittebrood hier het hulle ons ’n lys van plekke gegee wat ons moet besoek, en waar ons foto’s moet neem. Dit is plekke wat hulle destyds saam as gesin besoek het. Haar pa wil byvoorbeeld ’n foto van die Kalahari Sands Hotel hê,” sê Aiden.

“Dit is baie snaaks om te dink dat ek al dié plekke al gesien het en dit net nie kan onthou nie. Ek is baie opgewonde om dit nou weer te siem – veral omdat my ouers steeds gedurig daarvan hulle praat,” sê Gemma.

In die drie jaar wat die gesin in Namibië gewoon het, het familie uit Engeland by hulle kom kuier en reise deur die land onderneem.

“Een van my pa se gunstelingstories is toe my ouma kom kuier het en sy geskree het ’n sak het van die voertuig af geval. My pa het gesê dis nie ’n sak nie, maar sy band. My pa het die band in die middel van nêrens omgeruil en ons het ons reis voortgesit.”

Hoewel die familie nog nie weer terug in die land was nie, speel Namibië steeds ’n groot rol in hul lewens.

“My suster het onlangs 30 geword en ’n groot Namibiese vlag is gehangm asook die Verenigde Koningryk se vlag. My pa haal die onafhanklikheidsboek en foto’s gereeld uit en almal moet na sy stories oor Namibië luister. Ek is so bly ons kon ons wittebrood hier hou.”

Gemma is ’n hartfisioloog en Aiden ’n elektriese ingenieur.

Bassingthwaighte woon vandag op Swakopmund. Hy het sy skoolloopbaan in Windhoek voltooi en later met sy gesin kus toe getrek.

“Wanneer ek terugdink aan die dag toe ons land onafhanklik geword het, wys dit ons het een geword en almal in die land het as een saamgestaan,” het hy in 2015 in ’n onderhoud met die koerant gesê.

Hy het toe ook gesê hy wonder wie die blonde meisie langs hom was en hoe haar lewenspad verloop het.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!