Onder 19-span kry swaar by wu00eareldfees
Onder 19-span kry swaar by wu00eareldfees

Onder 19-span kry swaar by wêreldfees

Die sterk Suid-Afrikaanse skole het sover die oorhand behou.
Andrew Poolman
Andrew Poolman



Agter die onvleiende eindtelling van hul eerste nederlaag lê verskeie faktore versteek waarom die Namibiese o.19-span nie sy beste voet kon voor sit by die Wêreld-skolerugbyfees by die Hoër Jongenskool Paarl nie.

Vir die toernooi ter viering van die gasheerskool se 150ste bestaansjaar is 20 spanne uit verskeie wêrelddele genooi. Die formaat is dat van Suid-Afrika se voorste rugbyskole aan die een kant teen die Res van die Wêreld aan die ander kant meeding en twee punte met 'n oorwinning verdien. Elke span speel twee wedstryde.

Die Namibiese Vyftiental het Dinsdagaand in sy eerste wedstryd teen Oakdale Landbouskool met 'n stewige telling van 65-7 verloor. Die Kapenaars was rustyd reeds met 36-7 in beheer van sake.

Feitlik geen van die oorsese kombinasies kon op die eerste twee wedstryddae wen nie en het trouens almal redelike pakke slae ontvang. Goeie kondisionering, organisasie en samespel was dikwels die verskil.

Volgens afrigter Roger Thompson het die Namibiese vyftiental eers 'n laat uitnodiging aan die einde van Februarie ontvang, nadat Otago Boys High onttrek het.

“Ons het dadelik met die hoërskole rugbyvereniging begin kommunikeer, maar vanweë die kort kennisgewing was daar verskeie struikelblokke. Die datums bots met die Woestynfees en skole was dus nie oorgehaal om hul spelers beskikbaar te stel nie.”

Talent is onder meer by die Bank Windhoek Hennie de Waal-fees geïdentifiseer en Thompson het uiteindelik 'n groep van omtrent veertig bymekaar gekry wat saam met sy nasionale o.20-span geoefen het.

Die o.20's het Zimbabwe en Kenia laas week in 'n toernooi in Windhoek verslaan, maar verskeie van dié spelers kon ook nie vir die Kaapse reis oorweeg word nie.

“Ons kon nie die spelers vir 'n volle drie weke weg van hul universiteite of skole neem nie,” sê Thompson.

Die Namibiërs het Maandagoggend per bus uit Windhoek vertrek en het eers Dinsdagoggend in die nagtelike ure in die Paarl aangekom, voordat hulle later die dag teen 'n puik georganiseerde opponent moes opdraf.

Boonop was daar komplikasies met vier spelers se reisdokumente en moes vier plaasvervangers dus by plaaslike skole geleen word. Die betrokke Namibiese viertal het intussen wel na die Kaap gereis en sal na verwagting vir Vrydag se tweede wedstryd teen Glenwood oorweeg kan word.



OPDRAAND

Op die veld het die Namibiese vyftiental vir lang tye opdraand gekry, maar het ook met tye goeie dinge uitgevoer.

Die kaptein en die flank Gilead Plaatjies van Walvisbaai was op verdediging en aanval een van die uitblinkers en het deurgaans 'n hoë werktempo gelewer.

Die skraal heelagter Ravic Rittmann het gereeld die oog gevang met ondernemende teenaanvalle. Hy het ook sy span se enigste drie met spoed en 'n flink aftrap gaan druk, wat deur los­skakel Johan Krog verdoel is.

Die Namibiese span het beïndruk wanneer hulle balbesit behou het, maar hanteerfoute het verskeie belowende bewegings skipbreuk laat ly, terwyl hulle ook in die skrums op die agtervoet was.

Oakdale se vlugvoetige heelagter Clyde Lewis was sentraal in verskeie van sy span se elf drieë.

Vier daarvan is deur die linker­vleuel Trevino Gordon gedruk – insluitend 'n driekuns binne die eerste nege minute.

'GEES BELANGRIKER'

Die voormalige Springbok-afrigter Heyneke Meyer, die dryfveer agter die Wêreld-skolerugbyfees, het in media-onderhoude gesê die versterking van die gees van rugby en om nuwe vriendskappe dwarsoor die wêreld te smee, is straks belangriker as die uitslae op die veld.

“Die rugbyvaardighede wat ons sover reeds van die seuns gesien het, is ontsagwekkend. Die wedstryde word teen 'n vinnige tempo gespeel en die standaard sal vorentoe net verder verbeter.

“Ons het dié toernooi binne tien maande bymekaar gesit. Vir sommige skole en kombinasies wat genooi is, was tyd 'n beperking, maar almal is baie gretig en vir 2019 is ons amper reeds weer vol bespreek.

“Met ouers wat saam met hul kinders uit elke wêrelddeel gekom het, is die atmosfeer hier ongelooflik. Die formaat van RSA teen Res van die Wêreld laat spanne ook mekaar ondersteun wat normaalweg eerder op hul vyandskap gefokus sou gewees het.”

• Namibië se tweede wedstryd is Vrydag om 14:30 teen die Durbanse hoërskool Glenwood.

Regstreekse videostroom van die toernooi kan op die YouTube-kanaal van Cloudinc Flow gevolg word.

• Die ander uitslae van die eerste wedstryddag: Boland Landbouskool wen 59-26 teen Napier Boys High (Nieu-Seeland); Hoërskool Outeniqua (George) wen 91-0 teen St. Ignatius (VSA); Hoërskool Monument wen 48-12 teen Cavaliers (Australië).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!