• Tuisblad
  • Weer
  • Ondergrondse water veroorsaak dalk aardbewing

Ondergrondse water veroorsaak dalk aardbewing

In die Windhoek-gebied is een van die algemene snellers van bewings waarskynlik die onttrekking van ondergrondse water.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Die aardbewing wat Donderdagnamiddag by die Omeya-gholflandgoed suid van Windhoek gevoel is, is waarskynlik deur ondergrondse water veroorsaak.

Só meen twee top-geoweten­skaplikes verbonde aan die ministerie van myne en energie se Geologiese Opname.

Me. Mako Sitali, 'n senior geoweten­skaplike, het bevestig die bewing het 3,6 op die Richterskaal geregistreer en is deur seismograwe in Windhoek, op Gobabis en Aus waargeneem. Sy sê dit moes baie beperk voorgekom het, ­aangesien seismograwe op byvoorbeeld Kamanjab en Rundu dit nie opgetel het nie.

“Die episentrum was sowat 35 kilometer noordnoordoos van Rehoboth. Die bewing het hier 10 km diep onder die aardkors ontstaan,” het sy bygevoeg.

Sy sê in die Windhoek-gebied is een van die algemene snellers van bewings waarskynlik die onttrekking van ondergrondse water. Andersins word bewings dikwels in seismiese sones, of swak dele van die aardkors, deur verskuiwende tektoniese plate veroorsaak.

Die hoofgeofisikus, dr. Nortin Titus, gee gelyk die aardbewing moes baie gelokaliseerd gewees het. Hy sê 'n bewing is omstreeks 18:56 op nabygeleë seismograwe waargeneem. “Dit het nie 'n groot 'geraas' gemaak nie,” het hy gesê.

Hy is ook van mening dit is waarskynlik deur die beweging van ondergrondse water veroorsaak. Hy sê selfs die verskuiwing van 'n klein bietjie water, kan ligte aardtrillings ontketen.

Tussen die nat en droë seisoen kan dit gebeur dat ondergrondse water dieper in die aardkors inbeweeg, of water word onttrek en veroorsaak dat dit verplaas word of vloei, het hy verduidelik.

Hy sê dit verduidelik die ligte aardbewings wat dikwels tussen Julie en Augustus oor die afgelope vyf jaar in die Windhoek-omgewing voorkom.

Hy sê gerugte dat dit weens ondergrondse vulkaniese aktiwiteit kan wees, is onwaar. “Ons is absoluut seker die vulkaan waarop Windhoek gebou is, is uitgestorwe. Dit is reeds 550 miljoen jaar oud – soos die Windhoek-berge wat dit gevorm het, wat ook reeds vir miljoene jare lank staan.”

Verskeie mense het in die sosiale media gesê dit het soos 'n wind gevoel, maar die takke en blare van bome het nie gewaai nie. Nog iemand sê dit was 'n “eienaardige gevoel” soos 'n rukwind.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!