Ondersoek geu00ebis na mangaaninvoere
Ondersoek geu00ebis na mangaaninvoere

Ondersoek geëis na mangaaninvoere

Dani Booysen
BEKOMMERDE INWONERS VAN ARIAMSVLEI SKRYF:

Tradeport maak 'n bespotting van die regering en die gemeenskap van Ariamsvlei.

Petranam Logistics (Tradeport), 'n Namibies geregistreerde maatskappy wat deur Suid-Afrikaners besit word, het 'n omgewingsklaringsertifikaat (ECC) ontvang vir die vervoer, stoor, hantering en uitvoer van mangaanerts via Ariamsvlei na Lüderitz. Voorwaardes vir die projek is in die ECC uiteengesit om die omgewing en mense van Namibië te beskerm.

Op Ariamsvlei, waar van die mangaan vanaf vragmotors op die TransNamib-trokke gelaai word, word die neergelegde voorwaardes beslis nie nagekom nie. Die oorlaaiwerk geskied met groot laaigrawe in die middel van Ariamsvlei regoor die enigste vulstasie en winkel. Die werk vind meestal in die nag plaas om die groot stofwolke in die donkerte te verbloem.

Van stofbekamping, natspuit en behandeling van die stof soos vereis in die ECC is daar geen sprake nie. Soms, en ook net wanneer baie gekla of 'n besoek verwag word, word die grond sporadies in die nag met 'n trekker en watertenk natgegooi. Geen mangaan word behandel voor of tydens die oorlaaiproses nie.

Drade langs die nasionale pad (B3) vanaf Upington word oral geknip om toegang vir die groot vragmotors tot die werksarea te vergemaklik. Die mangaanvragmotors maak dan ook sommer hul eie onwettige afritte vanaf die nasionale pad, wat die teeroppervlak beskadig en ook 'n groot gevaar is vir ander verkeer op die pad. Die Paaieowerheid (RA) se voorwaardes in verband met die afritte word geminag.

Die groot laaigrawe ry heen en weer oor die treinspore en kan die spore beskadig?

Veiligheidsvereistes is beslis nie nagekom tydens die oprigting van die mangaanbergingstoor nie. Geen munisipaliteit sou so 'n stoor binne ‘n veilige afstand van 'n hoogspanningslyn goedgekeur het nie. Houers waarin die mangaan vervoer word, word reg onder die hoogspanningslyn met laaigrawe en vurkhysers op mekaar gepak, wat lewens gevaarlik is.

Besighede en inwoners van Ariamsvlei is glad nie tydens die impakstudie geken nie, alhoewel die area omring word deur 'n skool, koshuis, polisiestasie, kerk, kantore, winkel, vulstasie en wooneenhede.

Die oorverdowende lawaai wat die laaigrawe maak, maak slaap in die nag onmoontlik. Watse uitwerking sal die langdurige geraas op die inwoners en veral skoolgaande kinders hê?

Toeriste wat darem nog op ons dorpie aangedoen het vir brandstof of 'n versnappering ry nou maar aan en wil nie in Ariamsvlei se stofwolk verswelg of deur mangaantrokke platgetrap word nie.

Wortels van werkskepping word voor die neus van die arm, sukkelende gemeenskap van Ariamsvlei gehou.

Daar is nie weerstand teen die projek nie, maar groot weerstand teen die manier waarop dit geskied. Werkskepping kan nie geskied ten koste van mense se gesondheid en lewens nie. Watter regering of staatsamptenaar sal met die lewens en gesondheid van sy mense dobbel?

'n Ernstige versoek word gerig aan al die betrokke instansies en ministeries om ondersoek in te stel na bogenoemde. Daar moet volgens die wet en voorwaardes opgetree word sodat 'n werkbare oplossing gevind word vir die projek, met veilige, volhoubare werkskepping.

Indien al die voorwaardes in die ECC nagekom word en aan die gemeenskap se gesondheid, versoeke en insette aandag gegee word, kan 'n beter werksomgewing geskep word. Ariamsvleiers wil hul beslis nie deur die onmenslike, ongevoelige optrede van Suid-Afrikaanse geldmagte laat vernietig nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer